Daniel Eeuwrick neem DIE LAASTE TREIN na Nederland.

Sowat agt jaar gelede het ‘n vreemde pakkie, versender onbekend, op sy voorstoep beland. Binne was ‘n DVD van Searching for Sugerman.. Die ontvanger van die pakkie was Daniel Eeuwrick. ‘n Bekroonde argitek en Ghoema-wenner vir beste alternatiewe album in Afrikaans met sy album, OP ‘n LEë PARON.

Wat het van Daniel geword?
Hy het sy huis aan die Oos-Kaapse-kus verruil vir ‘n woonstel in ‘n geskiedkundige gebou, De Gouden Heuvel, in die stad , Den Bosch in Nederland.

Maar dit het Daniel nie gekeer om ‘n musiekvideo van sy nuutste enkelsnit DIE LAASTE TREIN in Nederland te te skiet nie. “Ek het wel vir Rudi Muller van Topwatch Studios gevra om dit te verwerk vir die Suid-Afrikaanse gehore,” knipoog Daniel wat al soos ‘n regte bekkige Nederlander klink.

Daniel is veral bekend is vir sy glas- en sement argitekoniese ontwerpe. Hy het middel Februarie vanjaar by die internasionale werwingsmaatskappy Tailorminds aangesluit waar hy onder meer by die konstruksie van farmaseutiese-geboue betrokke is.

“Ek moes die eerste tien dae in kwarantyn deurbring. Alles was gesluit en die Nederlanders het ook ‘n aandklokreël gehad. Ek praat met niemand hier nie; ek kan nie vorentoe nie; ek kan nie terug nie; ek kan nie uit my huis uit nie; niemand kom by my kuier nie. Ek was in niemandsland.”

Dit was so amper asof Daniel sy eie toekoms kon voorspel het, want hy het DIE LAASTE TREIN, wat op die einste album, OP ‘n LEë PARON, verskyn het in 2013 geskryf. Lank voordat hy in Nederland sou wees en lank voordat daar ‘n woord soos Covid-19 in woordeboeke van oor die wêreld sou verskyn.

Die lirieke van DIE LAASTE TREIN is simbolies, amper profeties, en dit is beslis van toepassing waar hy homself nou bevind. “Tydens Nederland se streng inperking was ek op ‘n leë perron. Heeltemal alleen.” Dit kan gevind word in die lirieke “… op ‘n leë perron sal jy hom kry…. hy loop alleen dis vinnig en goed, dis die ou spoorlyn wat hy nou soek.”

Die woorde ….”vat dit amper 40 jaar …”  is nog ‘n profetiese voorbeeld van Daniel se verlede.  Hy het sy eerste kitaar in 1981 gekry, en dit is nou 40 jaar gelede.

Tog is Daniel versigtig om nie te veel van die liedjie, wat pasknap vir sy rou storievertellerstem is, te verklap nie. “Ek wil nie te veel sê nie, want ek wil nie die luisteraar se eie interpretasie van die liedjie te veel beïnvloed nie.”

As ‘n luisteraar egter die liedjie interpreteer sal die stasie ‘n metafoor kan word vir “daardie dinge wat jy nooit sal verstaan nie. Reise na iewers, maar ook na nêrens.”

“Ek het in werklikheid een van die laaste vlugte (laaste trein) na Nederland geneem voordat al die internasionale grense gesluit is. Daar is nie meer ‘n vlug terug na Suid-Afrika toe nie.”

Daniel, wat in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap gewoon het, het dié enkelsnit self geskryf en baie mense het al na hom verwys as die nou-generasie se Koos du Plessis. Sy lirieke het diepte, amper digkuns, wat veral byval by die meer gesofistikeerde luisteraar sal vind.

Dié  liedjie is netjies verpak, tegnies goed versorg, die mondfluitjie van Piet Botha girts-girst teen die luisteraar se oor en die elektriese kitaar van Anton L’Amour laat ‘n mens dink aan ‘n trein se ysterspore wat net so universieel soos musiek is.  

Maar ‘n mens verwag ook niks anders van die musiekvervaardiger Peter Pearlson nie. Dit is jammer dat ‘n talent so groot soos syne nou vir ‘n wyle nie meer Suid-Afrikaanse verhore gaan vermaak nie. Maar ons hoop dat Daniel nog ‘n paar enkelsnitte in Nederland gaan opneem en dit na Suid-Afrika gaan stuur.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook

Lees meer:
Daniel Eeuwrick sing van Die Langkloof R62 – Plectrum (plectrummusiek.co.za)