fbpx
Daniel Eeuwrick sing van Die Langkloof R62

Daniel Eeuwrick sing van Die Langkloof R62

Daniel Eeuwrick is terug met sy nuutste enkelsnit DIE LANGKLOOF R62. Die mense van die Baai ken hom as Danie, die Argitek. ‘n Man wat met presissie, kunswerke kan vasvang op papier met noukeurige afmetings en dit dan verewig in sement, staal en glas. Strukture wat staan tot selfs die nageslagte dit sal kan waardeer.

Daniel Eewrick sing van Die Langkloof R62

Die land het hierdie lang man leer ken waar hy uit sy 1965 Zephyr klim, sy rocker-denims en boots aanhet, sy kitaar optel en dan op die verhoog stap.

Dis dan wanneer twee uiteenlopende wêrelde saamvloei as jy hoor hoe sy diep, eerlike stem dreun oor die luidsprekers (nes daai Zephyr), en hy die kitaarsnare met presissie pluk en kunswerke op note maak en liedjies sing wat verewig vasgevang gaan word, maar nie die keer in sement of glas nie, maar in elke ou se hart wat van eerlike, volwasse, alternatiewe afrikaanse musiek hou.

Daniel Eeuwrick het al diep spore getrap in die Afrikaanse Alternatiewe Musiekbedryk en het selfs al met ‘n Ghoema-toekenning weggestap in 2014.

Hy is terug met ‘n slinternuwe enkelsnit, DIE LANGKLOOF R62. Kom ry saam met hom in sy Zephyr deur die langkloof en Klein Karoo. Hierdie lied gaan jou hart oopskeur met sy soet, vloeiende ritme – nes Calitzdorp se port.

Net soos die R62 Ashton en Humansdorp verbind, verbind hierdie singende argitek alternatiewe- en meer kommersiële musiek met sy sterk kitaarwerk en polsende ritme. Soos die berge voor hom oopskeur in sy lied, bou hy musikale brûe wat die gapings verbind tussen akoestiese- en elektriese klanke.

Die gelyknamige musiekvideo is reeds uit op alle mediaplatfroms en Piet Botha ry saam met hom die pad daarin. Hierdie enkelsnit gaan jou na die Karoo Karoo laat verlang, Montagu se soet vrugte en die meer as net 300 myl, soos ‘n regte ‘short cut’ deur die Langkloof en Klein Karoo laat voel. DIE LANGKLOOF R62 kom uit sy eie pen, en die moderne ‘shortwave’ roep die keer die naam, Daniel Eeuwrick. Ons gaan nog ‘n langpad ry saam met hom in sy Zephyr en kitaar.

SOSIALE MEDIA

Facebook