fbpx
Len Muller ft Stella, ‘n TOEVLUG vir almal!

Len Muller ft Stella, ‘n TOEVLUG vir almal!

Die talentvolle musikant en sanger, Len Muller het geen bekendstelling nodig nie. Hy het vroeër in 2020, die  enkelsnit en musiekvideo vir sy liedjie, Heildronk, vrygestel. Aanhangers en radiostasies landswyd is gaande daaroor! Nou volg sy enkelsnit, TOEVLUG.  Hierdie liedjie, wat deur Len en Stella (Christelle Combrink) geskryf is laat jou hart warm klop en bring hoop vir die toekoms deur die inspirerende lirieke van die lied.

“Die lied gaan oor die toevlug en heenkome wat die Skepper vir ons almal wil wees. Wanneer dinge moeilik gaan, of heelwat uitdagings kom oor jou pad, wil die lied jou bemoedig om nie te hardloop na tydelike verligting op aarde nie, maar na die Een wat jou hart geskep het, want dáár alleen sal jy rus en beskerming vind.  

Die lied is vir my spesiaal, omdat ek die voorreg gehad het om saam met my tien jaar lange vriendin, Stella, vir die eerste keer te kan saamsing.  Die lied het my ook persoonlik deur baie moeilike tye gehelp,” vertel Len oor die besonderse lied. TOEVLUG vorm ook deel van sy opkomende album wat tans in die afrondingsfase is en later hierdie jaar vrygestel sal word.

TOEVLUG se musiekvideo is vervaardig deur Lens Flare Productions en die regie en kamerawerk is deur Jannes de Villiers behartig. Marike Steenkamp van Common Ground Collective het die redigering gedoen.Raldo Mattheüs is die tjello-speler.

“Beeldmateriaal is van my geskiet in my motorhuis wat ons in ‘n studio omskep het. Stella se beeldmateriaal is op haar plaas in Carolina geskiet. Daar is ook dele in die Kaapskiereiland geskiet,”  verklap Len oor die video.

Kyk die Video hier

Sedert Len sewe jaar gelede met sy solo-loopbaan begin het, was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad. Hy het die geleentheid gehad om saam met Stef Bos te werk, asook om sy eie kortspeelplaat uit te reik. Dit sluit die akoestiese verwerkings van sy bekendste liedjies in.

Verder was by ook bevoorreg genoeg om homself as liedjieskrywer te vestig. Hy het ook die verhoog gedeel met groot name soos: Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Musiek Soos Grond, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman en Dan Patlansky.

Len het einde 2019 na die Kaap verhuis en voel bevoorreg om elke dag op sy branderplank af te skop. Buiten vir sy nuwe album, het hy onlangs ’n nuwe agentskap begin. Die agentskap bestuur ander kunstenaars soos Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf). Hy is ook besig om liedjies vir Caroline Grace en Kurt Darren te skryf. Len is ook lid van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond wat in 2019 gestig is. Die beweings sluit in: Joshua na die ReënKaleidoskoopLeon GroppLizandra Winter en Liani Reynolds.

TOEVLUG stel nie net sy vaardighede as liedjieskrywer en musikant behoorlik ten toon nie, maar nooi jou ook uit om spontaan saam te sing en met nuwe oë na jou lewe te kyk. “Gedurende die storms wat ons nou beleef met die pandemie hoop ek die lied kan klomp mense bemoedig en resoneer in die harte van mense wat hoop sal kweek,”  sê hy.

Hierdie liedjie is op alle digitale platforms hier beskikbaar:  https://ditto.fm/toevlug

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook
Twitter
Instagram
YouTube
SoundCloud

Webblad: www.lenmuller.co.za

BESPREKINGS
E-pos: [email protected] of [email protected]