fbpx
The Best Regrets – A LITTLE MORE

The Best Regrets – A LITTLE MORE

Daar is ‘n nuwe mansgroep op die toneel – en almal van hulle is jonk en musikaal.

Hierdie jong manne van Pretoria, bekend as The Best Regrets het onlangs hul eerste enkelsnit, A LITTLE MORE, bekendgestel en hierdie liedjie beloof om ‘n paar elektroniese golwe in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te pomp.

Behalwe vir ‘n paar elektroniese pop-rock-kunstenaars soos Emerger, Goldfish en Goodluck, het Suid-Afrikaanse kunstenaars nog nie hierdie genre verken, wat gewoonlik ‘n kombinasie van rock/pop en elektroniese musiek behels nie.

Met A LITTLE MORE bring die lede Jean Hepburn, Len Botha, Jaques Lotter, en Jacques Mouton nie net die musikale grootsheid van vier jong volwassenes bymekaar nie, maar ook opgewekte lirieke en gladde stemme wat jou herinner aan Sondagmiddag-skemerkelkies by ‘n strandkroeg iewers op ‘n Mediterreense eiland.

Soos die naam van die groep aandui is hulle oor niks spyt nie; maar verwys eerder na hul foute as “best regrets”.

Hulle musiek word geskep die oomblik wanneer inspirasie tref en die resultaat is gewoonlik ‘n liedjie wat die klanke van regte instrumente, elektroniese instrumente en gesintetiseerde instrumente vermeng.

Hulle verwys na hulself as ‘n Indie/pop-elektro-band, dus hoef hul nie deur die rompslomp van ‘n platemaatskappy te sukkel nie. “Ons het hierdie liedjie in ons eie ateljee opgeneem, gemeng en vervaardig,” glimlag Jacques Mouton, die sanger en hoofliris.

Die groep is geskep toe Jacques en Len ‘n liedjie vir ‘n ander groep opgeneem het by die kollege waar Jaques, wat die tromspeler van die groep is, musiekproduksie studeer het. Jacques het toe ‘n paar demo’s aan Jaques gestuur, en die twee van hulle het besluit om ‘n nuwe moderne pop-gebaseerde projek te skep. Hulle het besluit om Jean, wat die baskitaarspeler is, by die groep in te sluit en dit was ook die ontstaan ​​van The Best Regrets.

“Ons fokus op die gevoel en emosie wat tydens die skryfproses geskep word, en dan vorm ons die liedjie rondom die musiek,” verduidelik Jacques.

A LITTLE MORE is ‘n goedvoel, rustige liedjie wat bydra tot ‘n vakansiegevoel. Die liedjie is in ‘n enkele aand geskryf nadat Jean en Len, terwyl hulle kitaar gespeel het, ‘n “catchy” melodie geskep het. “Ons het besluit om ‘n demo op te neem,” sê Jacques.

Hy het noukeurig na die musiek geluister en dadelik die lirieke vir ‘n A LITTLE MORE geskryf. “Omstreeks 01:00 die oggend het ons die liedjie na Rogan Kelsey, gestuur vir die laaste afronding. “

Die liedjie gaan alles daaroor om met vakansie te wees, om die allerdaagse te ontsnap en om die lewe skuldvry te geniet – of dit nou op die strand is, by ‘n partytjie of net tyd saam met jou maats geniet.

“Dit gaan daaroor om vas te hou aan daardie spesiale oomblikke en na elke stukkie te reik, voordat jy terug na die werklikheid keer,” prewel Jacques.

A LITTLE MORE is ‘n opwindende nuwe toevoeging vir die Suid-Afrikaanse musiekmark en hierdie liedjie is net die begin van musikale grootsheid.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram