fbpx
THE BOMB Podsending deel kennis oor musiekbedryf

THE BOMB Podsending deel kennis oor musiekbedryf

Die Covid-19 pandemie het ’n reuse impak gehad op die internasionale musiek- en vermaakgemeenskap. Kunstenaars en musikante sukkel om hulle ewewig te herwin en moet verskeie slaggate trotseer, wat in die pad staan van hulle musiekdrome, omdat hulle nie altyd verstaan hoe alles aspekte van die musiekbedryf werk nie. 

the bomb

StoneBear & Mayor Music, ’n Suid-Afrikaanse musiekvervaardigingsmaatskappy, in samewerking met die publisiteitsagentskap Starburst Promosies, het kragte saamgespan om rolspelers (ervare en onervare) in hierdie bedryf die geleentheid te gee om hulle loopbaan na die volgende vlak te neem. 

THE BOMB PODCAST (The Business Of Music Breakdown) is ’n inisiatief wat poog om die internasionale musiekgemeenskap te verenig en bemagtig deur middel van bruikbare, inspirerende inhoud.  

Hierdie weeklikse potgooi, aangebied deur StoneBear & Mayor se bekroonde vervaardigers en toonsetters – Lukas de Beer en Helmut Meijer – fokus op alle aspekte van die musiekbedryf en bied in-diepte gesprekke, met kenners, kunstenaars, invloeders en meer, oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe.

Dié konsep is gebore nadat Lukas ’n internasionale potgooi oor die kriptogeldeenheid geluister en dit baie waardevol gevind het. “Ek was verbaas dat hierdie tipe inligting vrylik beskikbaar is vir almal om na te luister,” deel hy. “Dit was opvallend dat daar nog nie so iets oor die musiekbedryf beskikbaar was nie. Ek het toe my idee aan Helmut voorgelê en ons het vinnig besef watter impak so ’n potgooi kon hê.”

Die eerste episode van Seisoen Een, wat op 23 September 2021 aanlyn verskyn het, was met die legendariese internasionale musiekuitgewer, John Fishlock.

“Ons het pas ons sesde episode, met tiener aktrise en sangeres Daniah de Villiers, met kykers gedeel. Voor Kersfees, gaan ons ook nog – onder andere – met die 2021 Wêreldkampioen van Publieke Toesprake Verity Price, en sanger en neuroloog, Etienne van der Walt; privaat-stilis, Donna Kennedy-Meyer; Afro-pop-kunstenaar en vervaardiger, Thando Mtyhobile; en die onlangse wenner van ‘Boer Soek ’n Vrou’, René de Klerk, gesels,” sê Lukas.

Hierdie gratis potgooi word elke Donderdag op alle groot sosialemediaplatforms geplaas, insluitend

Facebook, YouTube, Instagram, Apple Podcasts en Spotify. Seisoen Twee sal vroeg in Januarie 2022 begin uitsaai en enigiemand wat graag ’n gas wil wees op THE BOMB PODCAST of idees en kommentaar wil deel, kan ’n e-pos stuur na [email protected]

StoneBear & Mayor is ’n bekroonde musiek- en klankbaanvervaardigingsmaatskappy, geleë in Stellenbosch in die Weskaap. Hierdie onderneming is in 2015 gestig en word gesteun deur meer as vyftig jaar se gekombineerde ervaring in die musiekbedryf. 

Starburst Promotions is een van die bekendste publisiteitsagentskappe in Suid-Afrika. Hulle verteenwoordig reeds vir meer as ’n dekade lank van die grootste plaaslike en internasionale kunstenaars, musikante, akteurs en entrepreneurs, asook verskeie bekroonde rolprente en ander projekte.

Die span agter THE BOMB PODCAST glo dat hierdie platform die geleentheid bied vir verskillende musiekbedrywe om by mekaar te leer.

“Ons spreek enige kwessie aan wat te doen het met musiek, insluitend tegniese elemente, geestelike en sielkundige aspekte, stilering, finansies, vervaardiging, verhoudings en vele meer. Verder wil ons dit ook graag lig en persoonlik hou. Ons skram nie weg van die menslike aspek van die bedryf nie en hou daarvan om moeilike vrae te vra waarmee rolspelers elke dag sukkel en wat belangstellendes interessant sal vind,” sluit hulle af.


SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram, YouTube
Spotify: https://open.spotify.com/show/7pXc4brLKDcWVdxSguRUxz
Apple Musichttps://podcasts.apple.com/us/podcast/the-bomb-podcast/id1586689787