fbpx
Tiaan Massyn, die oogkundige van PTA wat sing

Tiaan Massyn, die oogkundige van PTA wat sing

’n Oogkunidge wat sing? Ja, hoekom dan nou nie? Om ’n verskil te maak in die lewens van die mense met wie sy pad kruis was nog altyd die aantreklike, nege-en-twintig-jarige oogkundige van Centurion in Pretoria, Tiaan Massyn se grootste lewensdoel.

Vir iemand wat twee suksesvolle praktyke in Pretoria besit en bestuur (Rooihuiskraal en Eldoraigne), té min slaap en té veel stres, bring sy passie vir musiek en liedjies skryf en die lekkerte daarvan om musiek te kan maak vir hom balans. 

Hierdie mense-mens het ’n baie hegte band met sy familie en erken sommer reguit dat hy geen ondervinding in die musiekbedryf het nie. “Ek is heeltemal buite my gemaksone, maar ek is vasberade om my horisonne te verbreed”, sê hy. Hy het twee jaar terug met sy eerste sangles by die baie bekende Jolanda Becker begin. 

“Vóór dit het ek laas in graad 6 gesing!”, skerts Tiaan. Maar luister jy na sy debuut-enkelsnit, wat pas die radiogolwe landswyd getref het, hoor jy ’n jong man met ’n ongelooflike stem wat met oorgawe sing! Já, hierdie oogkundige kán sing!

Hy het DIE SON KOM OP een aand rondom ’n goeie bottel wyn saam met sy swaer, Ernes Smit (’n CA in met ’n groot liefde vir poësie), geskryf en daarna het vervaardiger, Jattie de Beer van Artistry Productions sy meesterlike hand nadergebring.

Die lied gryp jou aan, want wanneer jy daarna luister besef jy dat hierdie man só baie dinge en uitdagings gedurende Covid moes beleef, gesien en hanteer het. Tog behou hy sy positiewe uitkyk op die lewe en glo hy dat jy elke geleentheid moet aangryp, voluit leef, die wêreld moet verken en musiek maak! 

“Ek wou graag ’n liedjie skryf waarmee Suid-Afrikaners kan vereenselwig en waarna hulle kan luister wanneer die beproewings bietjie te veel raak,” sê Tiaan.  Hy verduidelik dat die direkte impak wat Covid-19 op sy eie lewe en dié mense vir wie hy bitter lief is rondom hom gehad het, asook op ander mense met wie hy in aanraking gekom het deur sy werk as oogkundige, hom tussen die oë getref het.

Die struikelblokke wat hulle elke dag in die gesig moes staar omdat hulle werkloos was en moes sterk bly vir die mense om hulle. Dit is regtig hartverskeurend. Ek wou vir hierdie mense hoop skep; iets waarmee hulle kon vereenselwig en na kon luister.”

Massyn beïndruk met ’n lied vol betekenisvolle lirieke, wat op ’n besonderse wyse met melodie verweef is en die eindresultaat praat met jou hart. Of jy nou oud of jonk is, jy gaan verseker hierby aanklank vind.

Buiten vir ’n musiekvideo van die snit wat ook binnekort die lig sal sien, is hy opgewonde oor die toekoms en het ’n klomp belowende projekte in die pyplyn waaroor hy nog nie op hierdie stadium te veel wil verklap nie.

“Om te kan sien is die grootste geskenk van God en ek kan elke dag ’n verskil maak in iemand se lewe.”

“Kyk, DIE SON KOM OP!”, sluit hy af.

Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Laai dit hier af: https://TiaanMassyn.lnk.to/DieSonKomOp

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram