fbpx
Hansie Roodt – MY WOLF

Hansie Roodt – MY WOLF

Die musikant en liedjieskrywer Hansie Roodt se splinternuwe enkelsnit as solokunstenaar getiteld MY WOLF is gewaarborg om pappa-harte reg deur die bank te vermurwe.

MY WOLF is uit Hansie se eie pen. Die musikant het die liedjie vir sy seuntjie geskryf. 

“Ek wil hê hy moet weet dat hy vir niks hoef terug te staan nien en dat hy op groot skouers staan en my trots is,” sê Hansie oor die boodskap van MY WOLF.

Die alternatiewe Afrikaanse liedjie is geïnspireer deur Hansie se ontslape pa, die legendariese kitaarspeler Hansie Roodt Snr., en Hansie se skoonpa, die geestelike leier Jannie Pelser.

Hansie was maar 16 jaar oud toe sy bekende kitaarspeler-pa oorlede is. Jannie is self ‘n baie bekwame klavierspeler.

“Toe ek getroud is, het ek die ongelooflikste skoonpa bygekry. Hy het een van die mooiste harte in die heelal. Ek het eendag na my seuntjie gekyk en besef die bloed wat deur sy are vloei, is die bloed van twee enorme ikone. Hy moet dit weet,” sê Hansie.

Volgens Hansie is MY WOLF vir hom ‘n kosbare liedjie, aangesien hy sy pa op ‘n jong ouderdom verloor het. 

“Ek wil die beste maak van die tyd wat ek en my seuntjie saam het. Ek is seker die lirieke van die liedjie spreek tot elke pa. Die trots, die hoop en die beskerming.”

Hansie het self die kitare vir die lied gespeel, terwyl die tromme en baskitaar regstreeks opgeneem is aangesien dit die klank is waarvan Hansie hou. Sy vrou het die harmoniegedeeltes gesing.

“Ek hou nie daarvan as alles deur ‘n rekenaar gedoen word nie en ek hoop mense sal dit waardeer,” sê Hansie.

Vir die konsep van die musiekvideo vir MY WOLF het Hansie ou video’s van sy pa en skoonpa gebruik. Hansie wys dan op ‘n skerm vir sy seuntjie wie is oupa Hansie en wie is oupa Jannie.

“Dit beklemtoon net weer dat ek wil hê dat my seun moet weet op wie se skouers hy staan en dat hy nie hoef bang wees nie. Dié wat voor hom gekom het, het groot dinge vermag en hy kan ook.

“My wens is dat My Wolf elke pappa, of eintlik enige ouer, sal bemoedig om dadelik na sy seun te gaan, hom vas te hou en vir hom te sê dat hy ongelooflik lief is vir hom.”

Die video is geskiet in ‘n leë kerksaal by Rant en Dal Prisma. Mike Ramasimong, Charles Geer, Houlson Beauty en Werner Maartens was betrokke by die video. Coert Erasmus het die regie behartig.

Hansie spits hom die laaste tien jaar as kitaarspeler vir verskeie kunstenaars toe. Hy het onlangs sy werk as musiekdirekteur by ‘n kerk beëindig om ‘n sololoopbaan na te jaag.

Hansie hoop om binnekort die land plat te toer en ‘n volledige album uit te reik.

SOSIALE MEDIA

Instagram