Valeska Muller verskuif Afrikaanse musiekgrense!

Valeska Muller verskuif Afrikaanse musiekgrense!

Valeska Muller het deur die jare die kuns bemeester om met haar strelende stem, ritmiese musiekverwerkings en eerlike lirieke diep spore te trap in die harte van luisteraars regoor die land. Met haar derde enkelsnit, VERLANGE VAN JOU, bou sy voort op dié sukses en deel sy ‘n baie persoonlike boodskap waarby gehore van alle ouderdomme aanklank sal vind. 

Hierdie treffende oorspronklike snit, wat sy saam met vervaardiger BIGG-T geskep het, kan beskryf word as progressiewe huismusiek, wat ‘n vars en opwindende klank na die Afrikaanse mark bring. Die liedjie is geïnspireer deur gebeure in die musikant se eie lewe en daar is intense emosie teenwoordig in elke sielvolle liriek. Dit gaan oor iemand vir wie jy omgee, maar saam met wie jy nie meer tyd wil deurbring nie.

“Aan die begin van ons verhouding was ons verlief, dolgelukkig en onafskeidbaar. Ons het daagliks saam met mekaar verdwaal totdat hy by ‘n nuwe werk begin en besig geraak het. Ek het hom al hoe minder gesien en soms weke en naweke om alleen by die huis gesit en nooit geweet wanneer hy beskikbaar sou wees nie,” deel Valeska.“In die soeke na sy liefde en aandag, het ek begin vergeet wie ek is. Ek het myself toegegooi onder werk, oefening, inkopies, optredes, kuiers en televisieprogramme, maar my hart het leeg gebly. Sy stilte het aanhou vloei uit elke hoek van my lewe en die verlange het my heeltemal verorber. Al wat oorgebly het, is herinneringe van dit wat eens op ‘n tyd was.”

Sy voeg verder by dat sy op die dag waarop VERLANGE VAN JOU opgeneem is baie hartseer gevoel het en dat sy al haar verlange en pyn in die vertolking van die lied gestort het. “Almal het al na iemand verlang en weet hoe sleg dit is. Daarom glo ek dat luisteraars daarmee sal kan assosieer,” sê sy.

Oor die musiekvideo, wat deur Saint Nic Media vevaardig is by haar vriendin Jenny Pike se huis in Sandton, verklap sy dat kleur (blou en rooi) gebruik word om haar kontrasterende emosies te weerspieël. “Multi-dimensionele oomblikke wys hoe ‘n verhouding kan verander van verlief na verlange. Ek wou die konsep so na as moontlik aan die werklikheid hou en probeer in die video my aandag aflei, maar niks wat ek doen, kan die verlange wat my lewe oorheers keer nie,” verduidelik sy. “Ek het die ervaring vreeslik geniet, want dit was die eerste keer wat ek deel was van ‘n video wat met neonligte en ‘n 4K-kamera geskiet is. Die hele video is in skakerings van blou en rooi, en die storielyn word met dié van my vorige twee video’s verbind. Dit beteken dat kykers ‘n beter idee sal hê van wat aangaan wanneer hulle dit ook gesien het.”

VERLANGE VAN JOU is die derde vrystelling vanaf haar opkomende album wat in Augustus 2019 vrygestel word en volg in die voetspore van haar vorige liedjies, SKYN JOU LIGGIE VIR MY en VERDWAAL SAAM MET JOU wat albei baie positief ontvang is deur die publiek en steeds op radiostasies regoor die land gehoor kan word. Beide se musiekvideo’s, wat deur dieselfde regisseur vervaardig is, is ook reeds deur duisende mense op YouTube gekyk.

Valeska, wat haar eie musiekskool – Valeska Muller Vocal Academy (VMVA) – besit, werk al negentien jaar in die musiekbedryf. Sy het op die musiekrealiteitsprogram, Zing, haar debuut op die kassie gemaak, as deel van die Top 7 van die kompetisie, wat vir haar baie deure oopgemaak het.

Tans is sy besig om te oefen vir die Two Oceans, leer sy Spaans praat en doen sy die finale afrondings aan haar album. “Dit is vir my ‘n groot voorreg om my eerste album, wat nogal in my moedertaal is, op te neem. Alhoewel dit harde werk is, is dit ‘n baie lonende ervaring,” verklap die sangeres.

Buiten vir die feit dat Valeska Muller Afrikaanse grense verskuif met VERLANGE VAN JOU, is sy ook opgewonde om aan te kondig dat hierdie besonderse enkelsnit binnekort in Engels vrygestel gaan word, wat sal verseker dat haar musiek en boodskap nóg ‘n groter gehoor plaaslik en oorsee bereik.  

Dié liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, Twitter

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Leave a Reply