fbpx
Springsteen se musiek die inspirasie vir nuwe fliek!

Springsteen se musiek die inspirasie vir nuwe fliek!

Almal het daardie een liedjie, album, fliek of boek wat op die perfekte tyd hulle lewenspad kruis – net op daardie oomblik wat alles voel asof dit uitmekaar val, is daar ‘n merkwaardige stukkie kuns wat jou laat glo dat alles oukei gaan wees.  

BLINDED BY THE LIGHT vertel die storie van Javed (Viveik Kalra), ‘n Pakistanse Britse tiener wat in 1987 in ‘n mindergegoede buurt in Londen woon en presies dit ervaar. Dan ontdek hy Bruce Springsteen se musiek wat hom wakker maak en sy obsessie en indentiteit word. Maar die musiek doen ook meer as dit.  

Geïnspireer deur die lewe van die Britse joernalis, Sarfraz Manzoor, wat ook ‘n mede-draaiboekskrywer is, fokus die fliek op ‘n tiener wat sukkel om balans te vind tussen sy lewe binne en buite sy ouerhuis, en hoe sy lewensverwagtinge hemelsbreed verskil van sy Pakistanse pa s’n. 

Javed se wêreld word onderstebo gedraai na ‘n toevallige ontmoeting met ’n rebelse klasmaat, Roops (Aaron Phagura), wat sy nuwe vriend aan die polsende musiek van Bruce Springsteen voorstel (die kunstenaar wat op daardie tydstip nie noodwendig meer as cool geag word deur Javed se tydsgenote nie), maar die lirieke inspireer hom en neem beheer van sy toekoms.  

BLINDED BY THE LIGHT is ‘n fliek oor grootword deur regisseur Gurinder Chadha, wat in 2002 verantwoordelik was vir die lokettreffer Bend It Like Beckham. Die rolprent, wat terselfdertyd ‘n sjarmante huldeblyk aan tienerdrome én Bruce Springsteen is, is ook ‘n opwindende terugkeer na die kollig vir dié geliefde regisseur. Sy beskryf die kern van die fliek so: “Dit is oor ‘n jonman se drome en hoe iemand, uit ‘n totale ander agtergrond en duisende kilometers weg, hom inspireer om dit te volg.” 

Javed se huislike omstandighede is dieselfde as wat ons al honderde kere gesien het: Ouers wat verwag dat hulle kinders die kultuur waarmee hulle grootword, moet ignoreer vir die waardes van die land waarvandaan hulle kom. Malik (Kulvinder Ghir), die streng pa, is vasgevang in ‘n ondankbare werk. Hy het sy hele lewe daaraan gewy om ‘n beter toekoms vir sy kinders te skep. Hy is ‘n trotse en tradisionele patriarg en weier dat sy seun ‘n huurmotorbestuurder word, maar is ook heeltemal onbewus van Javed se brandende begeerte om sy eie identiteit te hê. Ghir se vertolking van die rol is hartlik en skreeusnaaks.  

Net soos met Javed, verleen Kalra se spontaniteit en onverwagse lae van emosionele kwesbaarheid baie diepte aan die fliek en lyk dit regtig of hy die tyd van sy lewe in hierdie rol het. 

Javed se vriende en familie is in die res van die rolverdeling te sien. Sy ma Noor (Meera Ganatra) is die geduld self, terwyl sy ousus Shazia (Nikita Mehta) vir hom die nodige perspektief gee oor hoe om sy eie waarhede te ontdek. 

Die ondersteunende rolle is gevul deur talentvolle akteurs soos Hayley Atwell, die Engelse onderwyser wat help om die platform te skep vir Javed se inspirasie om te groei, Nell Williams as Eliza, die meisie wat sy oog vang, en sy sogenaamde nuwe, beste vriend Matt (Dean-Charles Chapman).

BLINDED BY THE LIGHT is meer as net ‘n viering van Springsteen se werk. Oorweldig deur die rassisme wat hy op straat ervaar en die beperkinge wat op Javed geplaas word deur sy pa, vertel die fliek ‘n baie intense verhaal van grootword. Dit lei jou na die plek waar musiek alles kan wees; die belofte van ’n lewe wat jy nog nie het nie, maar wat die musiek sê jy kan kry.

Springsteen se musiek doen presies dít vir Javed. Dit is asof hierdie vreemde wit man van New Jersey spesiaal vir dié Pakistanse tiener sing, asof hy elke aspek van sy lewe beskryf en sy pad na die beloofde land uitwys. Die lirieke word so intens in Javed se brein ingeprent dat dit in die regte wêreld oorspoel en oor die skerm spat. Javed se ervarings met Springsteen se musiek word só verweef in die tiener se menswees dat dit byna onmoontlik is om nie saam met hom die woorde van jou gunsteling musiek aan die wêreld te wil uitbasuin nie.  

Soos wat Chadha met Bend It Like Beckham gewys het, weet sy hoe om die stres van botsende kulture moeiteloos saam te verweef in ‘n baie toeganklike komedie.  

“Met al my flieks probeer ek demonstreer hoeveel ons almal met mekaar in gemeen het, selfs al dink ons nie so nie. Ek wil hê dat gehore met my karakters moet kan identifiseer en voel dat die lewe nie net ‘n onregverdige plek vol probleme is nie, maar ook besef dat dit ‘n ongelooflike avontuur is waar verandering altyd moontlik is. Ek wou ook graag hê dat kykers moet besef watter wonderlike man, skrywer en musikant Bruce Springsteen is – hy verdien dit!” 

BLINDED BY THE LIGHT beloof om, deur middel van ‘n aangrypende en emosionele plesierreis, vir kykers te illustreer hoe musiek lewens kan verander – veral in die fase waar tieners volwassenes word. 

Die rolprent word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 16 Augustus 2019. 

SOSIALEMEDIA

Vir meer inligting oor BLINDED BY THE LIGHT, insluitende die amptelike lokprent, hou ons Facebook-blad dop of volg ons op Twitter by @NutsAboutMovies en gebruik die hutsmerk #BBTLMovie_SA om oor die fliek te gesels. 

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui