fbpx
Victro Bravo, oor.

Victro Bravo, oor.

Victore Bravo is ‘n opwindende nuwe akoestiese duo met hul oorsprong uit die van Basten-familie. Die onafhanklike groep doen oorspronklike verwerkings en hulle eie weergawes van bekende treffers wat hul musiek in een sin opsom as ‘n Blues infused Alternative Folk spin op Classical Rock.

Victor Bravo het ‘n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke soomloos laat saamsmelt om ‘n vars en nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind.

Voorsanger, liedjieskrywer, ritmekitaar- en klavierspeler, Weco van Basten, kom uit ‘n musikale familie wat gereeld saamkuier om die braaivleisvuur met ‘n kitaar in die hand en ‘n liedjie om te deel.

Hy het hoofsaaklik in Sasolburg grootgeword en van kleins af musieklesse geneem, in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan al wat kunswedstryd en konsert is. Weco het ‘n wye musieksmaak, maar sonder kunstenaars soos R.E.M., Cat Stevens, Sarah McLachlan, Eric Clapton, Ted Hawkins, Karen Zoid, Klopjag, Eminem, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, 2nd Life en Jo Black uit as musikante wat, vir verskeie redes, sy eie styl tot dusver beïnvloed het.

Gedurende die laaste twee jaar van sy laerskoolloopbaan, was hy ook lid van die Drakensberg Seunskoor. Omdat hy nog altyd passievol was daaroor om mense te vermaak en die stories in sy hart op papier te deel, is hy na skool Amerika toe om Drama en Engelse Kreatiewe Skryfkuns te studeer.

In hierdie tyd, was hy deel van die akoestiese groep, Victim, wat gereeld in en rondom Houston opgetree het. Die finale twee jaar van sy Taalstudies, is by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi, waar hy ook sy vrou ontmoet het.

Hoofkitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Jopie Pienaar, is ‘n passievolle musikant met ‘n natuurlike talent om van die kitaar een van die hoofrolspelers in enige musiekproduksie te maak. Musiek was nog altyd deel van sy lewe en iets wat hom kon laat goed voel in enige fase of situasie waarin hy homself bevind het.

Buiten vir Jopie se groot liefde vir Bluesmusiek, meen hy dat groepe soos Blink 182, Fokofpolisiekar, Dire Straits, Pink Floyd, Lynyrd Skynyrd, Rainbow Kitten Surprise, Spoegwolf en Kings of Leon die grootste invloed op sy musiek- en kitaarstyl gehad het.

Nadat hy op die ouderdom van veertien sy eerste rockkonsert (Straatligkinders) bygewoon het, het hy ‘n kitaar aangeskaf en homself leer speel. Op hoërskool was hy deel van die band, “Mad About You” en was hy ook betrokke by verskeie musiekprojekte by die skool en kerk.

Dit is egter die tye, rondom die braaivleisvuur saam met Weco, wat vir hom uitstaan en wat hy beskou as die amptelike ontstaan van Victor Bravo.

Die projek Victor Bravo is egter eers so twee jaar terug amptelik gebore as ‘n konsep in Weco se kop. Die idee was om “music for the sake of music” te boost.

Met ander woorde, hy wou ‘n platform skep waar die fokus uistluitlik op die musiek is, met geen van die “sideshows” nie. Musiek is die wêreld se gemeenskaplike taal en dis iets wat reguit met die hart praat.

Aan die begin van 2018 het hy en Jopie so gelyktydig besluit ons moet weer begin optree en die res is geskiedenis.

Alhoewel beide groepslede ‘n “day job” het, hoop hulle om binnekort voltyds hul passie vir musiek te kan uitleef.

Hulle raad aan jong kunstenars is, “Moenie opgee op jou droom nie. Werk hard, doen jou huiswerk, werk saam met betroubare musiekvervaardigers en publisiteitsagentskappe en wees getrou aan jouself en die styl musiek wat jy graag wil doen”.

Victor Bravo se debuut-enkelsnit, “Breakway Line”, kan gereeld gehoor word op verskeie gemeenskapsradiostasies. Die lied is deur Renier Henning vervaardig.

https://open.spotify.com/track/1FUBRjaSPpbfoBnW3ppuLF?si=Tz_Dmx2ITTWtj2GVFEghtA

Die musiekvideo (tans op kykNET NOU), in samewerking met Troukoors Tydskrif, is deur Dehan Janse van Rensburg verfilm by Die Windpomp Kroeg, Mediclinic Emfuleni en Duck Point Venue.

Besprekings:

Annelien van Basten (bestuurder)
[email protected]
0828636817

Sosiale Media:
Facebook, Instagram, Twitter en YouTube
Webblad

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui