fbpx
William Wolf – SOMER

William Wolf – SOMER

Net betyds vir die sonnige seisoen bring William Wolf vir ons sy jongste enkelsnit, SOMER. Dié popliedjie is die tweede enkelsnit vanaf sy album, Liefde Gemaak, wat vroeër vanjaar vrygestel is.

“In SOMER sing ek van twee mense wat mekaar ontmoet en sommer dadelik, met eerste oogopslag, verlief is,” het Wolf vertel.

“Ek wil die boodskap oordra dat mens in die oomblik moet leef – én dit geniet,” het Wolf vertel.

Met dié “blom waar jy geplant is”-tema wil Wolf ook net mense help om bietjie af te skakel van alles wat aangaan.

“Ek dink vandag meer as ooit het ons nodig om te vergeet van alles wat sleg is in die wêreld.”

Met treffer na treffer uit Wolf se pen kan luisteraars uitsien na nog ’n oorkruiper wat hulle op herhaal sal wil luister.

Wolf se titelsnit van sy album neem ook sy posisie op radiogolwe landwyd se ranglyste in.

Die musiekvideo vir Somer is ook pas in die Kaap verfilm en vertel die storie van ’n groep jongmense wat hulself geniet. Tonele speel by Bakoven Beach (naby Kampsbaai) en in die Kloofstraat-area af. Dié musiekvideo sal eersdaags vrygestel word.

Wanneer jy Wolf vra wat sy planne vir die toekoms is, antwoord hy vinnig dat hy graag Frozen 4 se temaliedjie wil skryf.

“Dit sal heel gepas wees want deur die liedjies wat hy vir mede-kunstenaars skryf, bied hy die perfekte sprokiesverhaal aan ander,” het Wian Smith-Venter, CEO van The Marketing Zoo, wat ook Wolf se bemarking hanteer, gesê.

Wolf was in 2003 deel van die Suid-Afrikaanse rock-groep Soul Proxy en dié tyd is een van die hoogtepunte wat vir hom uitstaan.

“Ek was saam met Ewald Jansen van Rensburg, wat my album opgeneem het, deel van Soul Proxy en het ‘’n somertoer saam met die internasionale band, Seether, en Grammy-wenner Amy Lee van van die musiekgroep, Evanescence, gedoen,” vertel Wolf.

“Dit was ’n ongelooflike tyd met uitverkoopte konserte aand ná aand,” voeg hy by.

Wolf het reeds vanaf ’n jong ouderdom ’n liefde vir musiek en is nou reeds twintig jaar in die musiekbedryf.

Hy het vertel dat hy nog eendag saam met John Mayer wil werk, of saam met Max Martin musiek wil skryf. Plaaslik sal hy saam met Pierre Greef of Francois van Coke wil werk. 

“Die kontras in ’n mens se lewe staan altyd vir my uit. Joys en heartaches,” het hy gesê.

En dit is juis dit wat hom inspireer om te skryf.

“Die mensdom (met die klem op die dom) kan nogals interessant wees. Dit voel soms of ek vanaf die kantlyn toekyk hoe die wêreld voor my afspeel. Maar dit is ook belangrik om onsself te herinner om die lewe nie te ernstig op te neem nie. So ek probeer die humor ook in alles sien,” het hy verduidelik.

Volgens Wolf sou hy, as hy enige ander beroep moes kies, ’n kleuterskool onderwyser kon wees.

“Ek dink as ons beter kleuterskool onderwysers in die wêreld gehad het, sou ons lankal wêreldvrede gehad het.”

Hy het ook vertel hy het ’n groot liefde vir houtwerk en sou boomhuise vir ’n lewe kon bou. 

Maar vir eers – bou hy aan sy eie droom – en dié van ander.

  • Wolf is ook verantwoordelik vir die treffers Tafelberg Vir Twee van Brendan Peyper, Pieter Koen se ’n Man Kan Ook Huil, Martin Bester se Ou Spoor, Willem Botha se Soen & Vergeet en Lee Scott se Perfekte Vreemdeling. Wolf is ook in 2008 as wenner van die ATKV Crescendo se Liedjieskryfkompetisie aangewys. .

Somer is nou beskikbaar op alle musiekstromingsdienste.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram