fbpx
THE CARD COUNTER

THE CARD COUNTER

Is daar sondes wat onvergeeflik is, of is daar ’n kans dat selfs die verdoemdes vergifnis kan vind en ’n vol lewe kan ly? Verlossing is die tema van die bekroonde skrywer en regisseur, Paul Schrader, se nuutste fliek THE CARD COUNTER. Dit vertel die storie van William Tell (Oscar Isaac), ’n voormalige militêre ondervraer en dobbelaar, wat van casino-tot-casino reis en poker speel. 

Soos die titel aandui, tel hy kaarte, maar nie op ’n spoggerige of ooglopende manier nie. Trouens, is sy doelwitte “beskeie” soos wat hy aan die dobbelagent, La Linda (Tiffany Haddish), verduidelik wanneer sy hom probeer werf as een van haar professionele spelers. Sodra hy dan sy doelwitte bereik het, beweeg hy aan na die volgende casino.

Gepynig deur sy herinneringe as tronkbewaarder in Irak, leef Tell ’n baie beheersde lewe. Wanneer sy paaie met Cirk (Tye Sheridan), die seun van ’n man wat saam met hom in die weermag gedien het, kruis beskou hy dit as ’n geleentheid vir verlossing en versoening. Dus, bedink hy ’n plan om Cirk te mentor as ’n geleentheid om homself te vergewe – en op sy beurt vergewe te word.

Schrader is bekend vir die intensiteit waarmee hy sy verhale vertel en THE CARD COUNTER sluit uitstekende toneelspel van Haddish en Sheridan in, terwyl Dafoe net so puik is in sy kleiner sleutelrol.

Dit is egter Isaac wat die kollig steel en lewe gee aan Schrader se skrikwekkende draaiboek. Volgens hom was hy dadelik aangetrokke tot die rol: “Ek het dit nie die eerste keer heeltemal verstaan toe ek dit gelees het nie en was onseker oor wat besig was om te gebeur. Toe ek dit weer lees, het dit begin sin maak en dit is wat my na die rol aangetrek het. Daar was soveel geheimsinnigheid en spanning, dat ek nie kon voorsien wat volgende met die karakter gaan gebeur nie. Om hom te speel, was vir my ’n fassinerende uitdaging.”

Schrader is bekend as die draaiboekskrywer van spanningsvolle klassieke rolprente soos Raging Bull en Taxi Driver. Sy werk, as regisseur is ewe meedoënloos. Daarom is THE CARD COUNTER nie net ’n donker verhaal wat die hooftemas van eensaamheid, isolasie en verlossing perfek vasvang nie, maar ook ’n indrukwekkende karakterstudie.

“Oor die jare het ek my eie genre van films ontwikkel. Dit behels gewoonlik ’n man wat alleen is in ’n kamer met ’n masker, en die masker is sy beroep,” sê Schrader. “Die karakter word dan, ongeag van sy beroep, met ’n groter probleem gekonfronteer. Vir hierdie film moes ek ’n beroep kies waarin die hoofrolspeler ’n doellose bestaan voer. ’n Dobbelaar het gevoel soos die perfekte oplossing. Dit kan dae vat voordat jy iets wen met poker en daar is meestal afwagting, sonder veel resultate.”

As jy hom uitvra oor die inspirasie agter Tell se donker karakter, sê hy: “Hierdie is ’n karakter vol teenstrydighede… so ek kan hom nie net sien as ’n donker karakter nie, maar eerder as ’n komplekse mens soos wat ons almal maar is.”

Isaac se Tell word uitstekend ondersteun deur die Emmy- en Grammy-bekroonde Haddish, wat bekend is as een van die gewildste komiese aktrises en kunstenaars in die wêreld. Sy het behoorlik vir haar rol voorberei deur in verskeie casino’s te kuier en te dobbel voordat hulle begin skiet het.

“Die wêreld is vol raaisels en daar is soveel verskillende soorte mense wat casino’s besoek,” deel sy. “Dobbelaars is fassinerende mense as jy die tyd neem om aan die tafel te gaan sit en met hulle te gesels. Hulle kom uit verskillende agtergronde, maar die een ding wat hulle gemeen het, is dat hulle wil wen. ”

Die klankbaan is deur die voorsanger en liedjieskrywer van Black Rebel Motorcycle Club, Robert Levon Been, behartig wat nou saam met Schrader gewerk het om dié verhaal op ’n teer en besweringsagtige manier te vertel.   

Schrader gebruik THE CARD COUNTER om dieper probleme te ondersoek en lê klem op die tema van vergifnis en verlossing. Die bekoring van die fliek lê in die manier waarop die psige van die hoofkarakter ontbloot word, asook die keuses wat hy maak. 

Die rolprent word plaaslik versprei deur Filmfinity Edms (Bpk.) en sal vanaf 22 Oktober 2021 in plaaslike bioskope te sien wees.

Rotten Tomatoes-gradering:  87%

KRITICI STEM SAAM

Met Oscar Isaac se aangrypende toneelspel, voeg THE CARD COUNTER nog ’n gewigtige hoofstuk by Paul Schrader se konstante vraag oor die morele verantwoordelikheid van die mens.

SOSIALEMEDIASKAKELS

THE CARD COUNTER

Facebook, Twitter, Instagram

FILMFINITY

Facebook