fbpx
William Wolf vra WIE IS JY?

William Wolf vra WIE IS JY?

Die sanger en liedjieskrywer William Wolf vra WIE IS JY? met nuwe sy nuutste enkelsnit. is ʼn alternatiewe popliedjie wat die luisteraar uitdaag om na binne te kyk vir antwoorde op die eeue-oue vraag: “WIE IS JY?”.

William Wolf WIE IS JY?

“WIE IS JY?” lewer sosiale kommentaar oor hoe maklik dit is om iets of iemand te wees wat ander mense van jou verwag, eerder as om te wees wie jy werklik is. Volgens die sanger vra ons onsself nie genoeg die vraag nie.

“Die retoriese vraag is dus: ‘Is jy wie jy wil wees in jou hart en siel?’” verduidelik William die tema van die enkelsnit.

Hy het die liedjie saam met Ewald Janse van Rensburg van PopKult geskryf en vervaardig. Die liedjie het hóm gekies en wanneer hy musiek skryf is dit asof dit net op ʼn manier op die bladsy beland.

“Toe ek die woorde ‘wie is jy wie jy wil wees” neerskryf, het ek geweet daar is ‘n liedjie. Ek het ook dadelik die koor se melodie ‘gehoor’,” sê William.

“WIE IS JY?” is ʼn belangrike vraag wat hy homself in sy eie lewe ook vra en streef hy daarna om die beste weergawe van sy ware self te wees. Hy ag dit ook belangrik om nie homself te verloor in dinge wat hom nie uiters opgewonde maak nie.

“Ek is egter nie perfek nie, net soos enigiemand anders, en dit is moeilik om jou outentieke self te kan bly in die wêreld daar buite, veral in die vermaaklikheidsbedryf.”

“WIE IS JY?” is ʼn goedvoel-liedjie oor ʼn moeilike onderwerp wat poog om die luisteraar te inspireer om dieper te kyk na die antwoorde op die belangrike vraag wat gevra word.

Die musiekvideo vir “WIE IS JY” is in Bloemfontein geskiet en is deur Jaco van Bosch vervaardig. Die verfilming van die video was groot pret aangesien William die melodie en lirieke agteruit moes leer sing. Alles in die video gebeur agteruit – behalwe sy mond en wat hy sing – en gevolglik begin die video met die einde en eindig met die begin.

Die video ondersteun ook die vraag: “WIE IS JY?”, maar ook die vrae: “Waar is jy?”, “Is jy nog in die verlede of in die toekoms?” en “Waar is jou fokus?”.

Meer oor William Wolf

William Wolf is al vir 18 jaar in die musiekbedryf doenig en is onder meer in 2003 vir ʼn Sama-toekenning benoem en is in 2008 as wenner van die ATKV Crescendo-liedjieskryfkompetisie aangewys.

Hy het onlangs getref met die enkelsnit “Droom” en het saam met die bekendstelling van dié snit die Droom-kompetisie van stapel gestuur, waar hy een aspirantsanger se droom bewaarheid het met ʼn wenprys ter waarde van R50 000.

Hoewel hy nie in ʼn musikale huishouding grootgeword het nie, is hy van kleins af blootgestel aan die musiek van onder meer Queen, Beach Boys, Bon Jovi en Eric Clapton.

Plaaslike kunstenaars wat hom inspireer is liedjieskrywer Lize Beekman, asook alternatiewe rock-musikante soos Francois van Coke en Laudo Liebenberg en die Afrikaanse musiekgroep Die Heuwels Fantasties.

Kunstenaars soos David Ramirez, John Mayer en James Bay asook ouer musiek van The Eagles, Creedence Clearwater Revival, Leonard Cohen en Cat Stevens het ʼn invloed op sy skryfstyl.

Hy vind dit is makliker om ʼn liedjie te skryf as hy ʼn sterk tema het, en daarom maak hy alewig notas op sy foon van slim of catchy woorde of one liners, waarop sy oor al fyn ingestel is. Vandaar skryf die liedjies op ʼn manier hulself en sy lewensuitkyk en ervaringe vul die lirieke aan soos wat die skryfproses ontvou.

Die musiekbedryf het hom geleer om te volhard en om op homself te fokus as kunstenaar en sy eie stem en gevoel te eer.

“Ek moes ook leer om te laat gaan en te aanvaar dat ʼn kunsternaar se musiek selde volgens hom of haar gaan ‘klaar’ wees. Mens voel altyd daar is nog iets wat ʼn mens wil verander. So vandag skryf ek en laat dit gaan, sonder om dit te veel na te gaan,” sê William.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube

LEES MEER

William Wolf se DROOM-dag