fbpx
TRANSCEND deur Sincerely Anne deel ‘n kragtige boodskap

TRANSCEND deur Sincerely Anne deel ‘n kragtige boodskap

TRANSCEND deur Sincerely Anne gaan daaroor om struikelblokke te oorkom – in watter vorm dit ookal mag wees – en jouself toe te laat om te groei ten spyte daarvan. “Ons gaan almal soms deur moeilike tye en dit kan dit oorweldigend wees. Hierdie liedjie gaan daaroor om hierdie omstandighede te gebruik om te groei, sterker te word en dit in iets positief te omskap,” verduidelik sy.

Sincerely Anne, wat reeds vir haarself naam gemaak het met haar hoendervleismooi stem en betekenisvolle lirieke, se nuwe enkelsnit is op pad… en net soos met haar vorige vrystelling – She’s on Fire – het sy ’n kragtige boodskap om daarmee te deel.

Net soos met haar ander musiek, was Anne se eie ervaring en emosies die inspirasie vir haar nuutste vrystelling. Die sanger sukkel al vir ’n geruime tyd met bosluiskoors-verwante gesondheidsprobleme en het ook onlangs ’n baie goeie vriend verloor as gevolg van misdaad. Alhoewel die liedjie eintlik ’n boodskap aan haarself is, is dit ook een waarby almal sal aanklank vind. 

“Ek verstaan dat dit soms soos ’n cliché klink wanneer jy vir iemand sê dat ‘blomme reën nodig het om te groei’, veral wanneer jy nie weet waardeur daardie persoon gaan nie. Maar TRANSCEND is meer soos ’n monoloog – ’n bemoedigende boodskap aan jou van jou,” deel sy. “Ek wou blomme kweek uit die reën wat ek in my lewe ervaar en hoop om ander met my musiek te inspireer om dieselfde te doen.”

Die enkelsnit, wat haar strelende sterk stem pragtig ten toon stel, word gekomplementeer deur ’n besonderse musiekvideo, maar aanhangers sal tot 17 September moet wag wanneer hierdie merkwaardige musiekvideo, waarvan 99% van die beeldmateriaal onder die water verfilm is, bekendgestel sal word.

Anne woon tans in Johannesburg, maar het op ’n plaas grootgeword waar sy tuisonderrig ontvang het tot op die ouderdom van dertien. Sy is die jongste van vyf kinders en was baie jonk toe sy viool begin speel het. Dié talentvolle musikant het vir negentien jaar viool gespeel by funksies en vir vyf jaar in groepe gesing, voordat sy in 2017 besluit het om ’n solo-loopbaan aan te pak. Sy beskou dit as een van die grootste projekte van haar loopbaan sover. 

Oor die jare, het sy baie loopbaanhoogtepunte bereik en die verhoog gedeel met van die grootste name in die musiekbedryf, waaronder Connell Cruise, Ard Matthews, Joshua na die Reën, Jan Blohm, Amanda Strydom, Graeme Watkins Project, Shortstraw, Shaun Jacobs en vele meer. Sy was ook, as konsertmeester en vioolspeler, betrokke by orkeste soos die NWU PUK-orkes en die Randse Simfonieorkes. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ook ’n viool- en klavieronderwyser.

“My persoonlike probleme, het my gemotiveer om my hart te volg en met passie te leef terwyl ek nog kans het om dit te doen. Die boodskap wat ek graag wil oordra met TRANSCEND, is dat die lewe onseker is en as gevolg daarvan moet jy so leef dat dit ‘jammer is om te moet doodgaan’. Terwyl ons nog asem in ons longe oorhet, kan ons ’n verskil maak,” sluit sy af.

Die musiekvideo word op 17 September bekendgestel.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, YouTube 

LEES MEER:

Sincerely Anne se nuutste enkelsnit – She’s on Fire

Sincerely Anne – Opreg, eerlik en alternatief