fbpx
Sincerely Anne se nuutste enkelsnit – She’s on Fire

Sincerely Anne se nuutste enkelsnit – She’s on Fire

Sincerely Anne het ’n belangrike, tog prettige en inspirerende boodskap om die harte van vroue vas te vang met die uitreiking van haar nuwe enkelsnit, SHE’S ON FIRE. “Daar is klaar genoeg struikelblokke en persepsies wat teen ons tel in die wêreld. Ons vertel onsself gereeld dat ons nie goed genoeg is nie,” sê sy. “Ons het almal unieke talente, moed en krag binne ons. Ons moet dit net raaksien en dit vir mekaar wys.”

SHE’S ON FIRE, wat met ’n kraakvars Reggae-Pop-klank spog, is ’n opbouende snit wat vroue uitdaag om goed te wees vir mekaar en ander te inspireer. “Dit is ’n opgewekte liedjie met ’n positiewe boodskap, wat by almal sal aanklank vind. Ek wil hê dat ons almal, myself ingesluit, bo die negatiewe moet uitstyg en daarna moet streef om onsself en ander te verbeter. Dit is belangrik vir toekomstige generasies vroue … al kry ons dit nie altyd reg nie,” verklap die kunstenaar.

Dit liedjie kom uit haar pen en is ’n bewys van haar vermoë om sielvolle lirieke en aangrypende melodieë te kombineer en ongelooflike musiek te skep. Dit is geïnspireer deur die idee dat niemand enigiets verloor deur iemand anders op te bou nie.  Op die ou end is dit nie ’n kompetisie nie en is een vrou se sukses eintlik ’n oorwinning vir alle vroue.

“Goeie vroue in my lewe het gedien as inspirasie vir dié enkelsnit. Vriendinne en vroue wat ek bewonder soos Mejuffrou Nigerië (Nyekachi Douglas) se wonderlike reaksie toe Mejuffrou Jamaica gekroon is as Mejuffrou Wêreld, asook ons eie Zozibini wat passievol is oor opvoeding en vroulike leierskap,” verduidelik sy.

SHE’S ON FIRE, wat haar strelende, sterk stem perfek ten toon stel, volg in die voetspore van haar vorige enkelsnit, POISON, wat baie goed ontvang is en deur baie groot radiostasies landswyd speeltyd kry. 

Sy woon tans in die Suide van Johannesburg, maar het op ’n plaas grootgeword en tuisonderrig ontvang totdat sy dertien was. Sy is die jongste van vyf kinders en was baie jonk toe sy leer viool speel het.

Fotokrediet: Ross Mellow – “Hybrid Fusion”

Sedertdien het musiek ’n integrale deel van haar bestaan geword. Sy het vir negentien jaar viool gespeel by funksies en vir vyf jaar in groepe gesing voordat sy in 2017 met haar sololoopbaan begin het. Sy beskou dit as een van haar grootste prestasies sover.

Oor die jare het sy baie loopbaanhoogtepunte bereik en die verhoog gedeel met van die grootste name in die musiekbedryf, waaronder Connell Cruise, Ard Matthews, Joshua na die Reën, Jan Blohm, Amanda Strydom, Graeme Watkins Project, Shortstraw en Shaun Jacobs. Sy was ook as konsertmeester en violis betrokke by orkeste soos die NWU PUK-orkes en die Randse Simfonieorkes.

Tydens haar studentejare by NWU en WITS het sy deelgeneem aan elke SÊR-kompetisie en -konsert. Sy het ook in haar tweede- en derdejaar die geleentheid gehad om hierdie groepe af te rig en musiek vir hulle saam te stel.

Die inspirasie vir haar lirieke kom vanuit persoonlike ervarings en emosies, maar die klavier help ook om haar te inspireer gedurende die skryfproses. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, gee sy viool- en klavierlesse.  Sy is tans besig met die finale afrondings aan haar nuwe musiekvideo wat binnekort te sien sal wees en verseker aanhangers se asems gaan wegslaan!

Wanneer jy na SHE’S ON FIRE luister, is dit duidelik dat Sincerely Anne passievol is oor wat sy doen. Musiekliefhebbers kan haar gerus dophou en uitsien daarna om meer  van hierdie talentvolle musikant in die nabye toekoms te hoor. “Ek wil graag hê dat luisteraars die liedjie moet geniet en dat dit hulle moet bybly. Dit is vir my belangrik om ’n positiewe boodskap te versprei in ’n wêreld wat soms baie negatief kan wees,” sluit sy af. 

Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms hier:
Apple Music, Spotify, Deezer

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, YouTube