fbpx
Louis Geldenhuys deel persoonlike nuwe enkelsnit,VLAMME!

Louis Geldenhuys deel persoonlike nuwe enkelsnit,VLAMME!

Dit is nie sommer enige kunstenaar wat ’n hartroerende ballade met oortuiging kan weergee nie. Gelukkig het Louis Geldenhuys reeds menigmaal in die verlede bewys dat hy presies weet hoe om sy strelende stem met luisteraars se harte te laat praat.

VLAMME, sy nuutste enkelsnit, gaan oor verlange en die treffende manier waarop dit weergegee word, en sal jou met ’n knop in die keel laat wegstap. “Soms mis jy iemand so baie dat jy hom of haar raaksien in alles,” deel hy. “Dié liedjie vertel die verhaal van ’n persoon wat iemand mis en geen antwoorde het oor wat van daardie mens geword het nie.”

Volgens Louis, wat sy pa in 2007 aan die dood moes afstaan, is hierdie liedjie – uit die pen van Pierre Rossouw – vir hom baie persoonlik: “In VLAMME hoor die hoofkarakter die bome kraak, die wind waai en die vlamme knetter, maar dit bring geen leidrade of verduidelikings nie. Ek glo dat elkeen van ons al in ’n situasie was waar ons iemand so baie gemis het en daarom sal dié lirieke by almal aanklank vind.”

Die sanger, wat op Valentynsdag saam met Nádine en ander kunstenaars op ’n Rugby Theme-bootreis na die Portugese eilande vertrek, verklap dat sy vorige popsnit – ENGEL – baie goed ontvang is en steeds gereeld op radiostasies landswyd gespeel word. Die musiekvideo, deur Fathom Media in Randburg verfilm, is ook gereeld te sien op televisiekanale soos kykNET NOU en VIA.

Kyk die video hier

Albei liedjies is beskikbaar op sy album, HARTE IN DIE LUG, waarvan die titelsnit deur die country-legende Dennis East geskryf is. Dit bestaan uit elf oorspronklike snitte, wat wissel tussen opgewekte dansmusiek en dieper liefdes- en gospelliedjies.

Laai die album hier af: Apple Music

Met die KKNK en ander feeste om die draai, is Louis drukbesig om voor te berei en beskou hy steeds elke geleentheid wat hy kry om sy musiek met ander mense te deel as ’n groot voorreg.

Hy beplan verder aan ’n nuwe album en ’n moontlike toer saam met Country Koors. Hy oorweeg dit sterk om sy Dramastudies voort te sit en is besig om sy graad in Engelse Onderrig te voltooi.

VLAMME is ’n hoendervleismooi, meesleurende ballade, wat jou lank sal bybly. Dit sal jou wegvoer na die verlede, laat verlang na diegene wat jy verloor het en die mooi herinneringe in jou lewe laat koester soos net Louis Geldenhuys se musiek kan.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram