fbpx
PROGRESSION – Rise in Red se derde enkelsnit

PROGRESSION – Rise in Red se derde enkelsnit

Die alternatiewe rockgroep, Rise in Red, se nuwe enkelsnit komplementeer die emosiebelaaide styl en besonderse klank waarvoor hulle bekendheid verwerf het. PROGRESSION, die derde vrystelling vanaf hulle elfsnitalbum, se naam is baie gepas. Nie net as gevolg van die uitmuntende kitaarspel nie (in musikale terme word ’n aantal koorde wat in ’n spesifieke patroon op mekaar volg, koordprogressie genoem), maar ook omdat dit aandui hoeveel die groep gegroei en gevorder het. 

Die nuwe liedjie volg kort op die hakke van IN BETWEEN THE LINES – die titelsnit van hulle debuutalbum – en VOICES, wat beide baie goed ontvang is en gereeld oor die radio gehoor kan word.

PROGRESSION gaan oor iemand wat worstel met die lewe, dood, geloof en die vraag ‘wat gebeur hierna?’. Dit is in wese die verhaal van vordering deur die lewe,” verduidelik die hoofkitaarspeler van die groep, Jayson Reynolds. “Dit is ook vir ons ’n temaliedjie, wat uitbrei op ons reis – die pad om ons albumdroom te verwesenlik was beslis vol interessante kronkels.”

’n Musiekvideo, deur GK Kreativ Productions, word in Maart 2020 vrygestel, maar hulle wil nog nie te veel hieroor verklap nie. “Dit gaan hoofsaaklik op die groep fokus, met ’n byverhaal wat ’n reis onthul. Die interessante ding is hoe die storie by die groepstonele inskakel. Aanhangers sal maar moet wag en kyk om te sien wat gebeur,” vertel Reynolds.

Die Bloemfonteinse musiekgroep – met lede Reynolds, Dustin McCrindle (hoofsanger), Jaco Novella (dromspeler) en Pierre du Toit (baskitaarspeler) het die afgelope paar jaar naam gemaak vir hulle inspirerende lirieke en boeiende verhoogpersoonlikheid.

Alhoewel hulle reeds die voorreg gehad het om die verhoog te deel met groot name soos Prime Circle, aKing, Dan Patlansky en Francois Van Coke, lys hulle die vrystelling van hulle 2019-album as die hoogtepunt van die groep se loopbaan sover.

“Ons is baie positief oor PROGRESSION en oor ons album. Ons glo dat ons musiek het wat dit vat om grense – in alle opsigte van die woord – te oorskry, en ons vertrou dat dit mense sal inspireer wanneer hulle daarna luister. Die hele boodskap van die album is opbouend – wanneer jy onderwerpe aanpak soos lewenservaringe en –vrae, is dit belangrik om altyd hoop te gee vir ’n beter môre,” verduidelik Reynolds.

Buiten vir die skryf van nuwe liedjies, die saamstel van vertonings en die beplan van verskeie opwindende funksies, was die groep ook besig om wonderlike nuwe inhoud vir hulle YouTube-kanaal te skep, met die hulp van die mentor Damian Keyes. Aanhangers en kitaarliefhebbers kan uitsien na baie leersame video’s van Jayson, agter-die-skerms-beeldmateriaal en meer.

Rise in Red is ’n veelsydige rockgroep, wat emosiebelaaide sielsmusiek skep wat by ’n wye gehoor aanklank vind. PROGRESSION bevat al die nodige bestanddele van ’n groot radiotreffer en gaan beslis vir dié groep nog ’n paar nuwe aanhangers inpalm. Volg hulle vordering op sosiale media en word deel van hulle ewig-groeiende gemeenskap!

Die enkelsnit is beskikbaar op die album hier:
Spotify, Apple, Deezer, YouTube 

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram, SoundCloud

Webblad: www.riseinred.com