fbpx
MOVE saam met Reggie Peace!

MOVE saam met Reggie Peace!

“2018 was een van die donkerste jare van my lewe. Ek het begin twyfel of ek in die bedryf moet wees. MOVE is geskryf om myself, en ander, te motiveer om nie op te gee nie en my passie en talent uit te leef,” verduidelik Reggie Peace oor die boodskap agter sy nuutste enkelsnit, wat reeds Suid-Afrikaanse musiekharte verower het. 

“Om op my eie ritme en pas te dans maak my die gelukkigste ou op aarde, want ek hoef nie myself te vergelyk met ander nie,” verduidelik hy. “Die liedjie het ’n positiewe boodskap en ’n lekker ritme waarop almal kan dans. Gehore van alle ouderdomme sal dit geniet.”

MOVE, wat moderne Pop- met interessante Funk-elemente kombineer, is deur Calvin Botha (DJ Darkness) vervaardig en is die sewende oorspronklike enkelsnitvrystelling uit Reggie se pen. Sy vorige vrystellings, FREQUENCYDO IT – PEACEMAKER HOEKOM?KOS OP DIE TAFEL (KODT)ALL THAT MATTERS en BETTER, is almal baie goed ontvang.

’n Musiekvideo van dié treffer sal binnekort op die kassie te sien wees. “DJ Darkness, die vervaardiger van die liedjie, is blind. Hy beweeg op sy ritme deur die liedjie te vervaardig, maar in die musiekvideo sien ons hoe hy die ritme versprei na almal. Die musiek bring almal saam, maar almal dans hulle eie dans,” verklap die musikant.

JT Ferreira, wat onlangs die groep Jan, Jan, Jan se gewilde musiekvideo vervaardig het, was aan die stuur van sake en die beeldmateriaal is in Melville verfilm. “Ons huis – die Echo Jeugbedieningshuis – is gevra om as ’n gemeenskap ’n musiekvideo te maak wat almal insluit. DJ Darkness volg sy ritme deur die musiek te vervaardig en dan versprei hy, ek en ’n paar ander vriende die musiek na die res. Dit is baie gefokus op gemeenskap en hoe ons kan saam leef as Suid-Afrikaners.”

Reggie Peace, oftewel Reginald Hufkie, is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, en draaiboek- en liedjieskrywer. Hy werk al sedert 2011 in die vermaaklikheidsbedryf en het in 2019 amptelik begin naam maak met prominente rolle in die Silwerskermbekroonde kortfilm, Cowboy Dan (2018), Generations: The Legacy (Luke), Die Spreeus en Huis Lelieveld (Spanner). Dit was ook die jaar waarin sy solo-usiekloopbaan begin vlam vat het.

Dié veelsydige vermaaklikheidster se liedjie, IN DIE VLEI , is boonop gekies as temamusiek vir een van die komende seisoene van Arendsvlei“Ek het self die inisiatief geneem om die liedjie te skryf, nadat ek reeds sedert 2018 rondspeel met ’n ritme wat een van my vriende vir my gegee het,” vertel hy. “Ek het eintlik een van ander liedjies aan Wilmien Rossouw voorgelê en sy het my toe gevra om nog ’n paar te skryf en op te neem en so is die lied toe gebore.”

Vanjaar is Reggie Peace en Lizz Meiring se verhoogstuk, Die Atleet, te sien by die KKNK. Die stuk is geïnspireer deur ’n ware lewensverhaal. Dit handel nie net oor atletiek nie, maar ook die wedloop van die lewe en soms blote oorlewing; oorlewing wat uiteindelik tot oorwinning lei. 

Wanneer hy nie voor die kamera, mikrofoon, of op die verhoog is nie, is hy ook ’n atletiekkommentator wat gereeld kykers op die punte van hulle stoele hou tydens sportbyeenkomste.

Reginald het in Schauderville, Port Elizabeth, grootgeword. Nadat hy as tiener albei sy ouers verloor het aan Tuberkulose, is hy en sy broers in die sorg van ’n kinderhuis geplaas. Hy woon tans in die Echo Jeugbedieningshuis in Melville, Johannesburg, waar hy op sy beurt weer probeer om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. 

Op skool het dié sewe-en-twintigjarige ster uitgeblink in toneelspeel. Hy was ook versot op sport en was op sy dag ’n provinsiale stapper. Alhoewel hy nog altyd geweet het dat hy mense met sy talente wou vermaak, het hy na skool deur middel van ’n beurs Vervoerbestuur gaan studeer by die Universiteit van Johannesburg.

Dit is hier waar sy passie vir musiek en drama verder ontkiem het en hy sy skryftalent ontdek het. In 2015 is hy as wenner gekroon van die UJ Can You Sing?-kompetisie. Hy het ook Drama-opleiding gehad by die UJ Drama Company, onder leiding van Alby Michaels en Motladji Ditodi.

Oor die jare was hy deel van verskeie suksesvolle verhoogproduksies (Marat SadeMetaphorically SpeakingFiela’s Child The Musical), advertensies en televisieprogramme (High Rollers7de LaanSwartwater). In 2013 was hy deel van die gospelgroep, Gospel Goes Beyond, wat ’n platekontrak by Zinto Records gehad het. Daarna was hy in ’n Hip-Hop-/ RNB-groep met die naam Peacemaker, waarna hy in 2018 besluit het om ’n solokunstenaar te word.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om saam met van die land se beste akteurs te kan werk in die plaaslike reekse waarby ek betrokke is. Om laas jaar ses van my eie enkelsnitte met luisteraars te kon deel, is ’n droom wat waar geword het,” verklap hy oor sy loopbaanhoogtepunte sover.

Reggie Peace beskryf homself as ’n rustige en nederige mens, wat baie oop is vir mense en hulle stories en daarvan hou om by die huis te ontspan wanneer hy die kans kry. Volgens hom put hy baie van sy inspirasie uit persoonlike ervaring en meen hy dat hy ’n karakter die beste kan speel as hy met sy omstandighede kan assosieer.

Musiek was nog altyd deel van wie hy is en die kunstenaar sien uit daarna om meer van homself met die land te deel. Met MOVE oortref hy nie net hierdie doelwit nie, maar kry hy dit reg om hoop te bring vir elkeen wat hard werk om hulle regmatige plek in die samelewing te vind.

MOVE is beskikbaar op digitale platforms: Distrokid 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
FacebookInstagram