fbpx
Joshua na die Reën reik na die sterre met nóg ’n treffer!

Joshua na die Reën reik na die sterre met nóg ’n treffer!

4.5 out of 5 stars

Die multibekroonde musikant, Joshua na die Reën, wat in 2014 naam gemaak het met sy selfgetitelde debuutalbum – waarvoor hy verskeie Ghoema-toekennings, ’n Huisgenoot Tempo- en ’n Woordfeestoekenning ontvang het – is terug met sy derde enkelsnit, STERRENET, vanaf sy album, SOMERAARDE, wat reguit met die hart praat. 

Die eerste twee enkelsnitvrystellings, SOOS IN NOU en SOOS DIE WIND het binne slegs enkele dae trefferparades van radiostasies landswyd oorgeneem en vir weke aaneen daarop gepryk. Hierdie liedjies word steeds op hoë rotasie op radiostasies in Suid-Afrika en Namibië gespeel. 

STERRENET is ’n kontemporêre popsnit uit dié veelsydige kunstenaar se pen en pas netjies in sy besonderse styl waaroor sy aanhangers gaande is. “Ek en my dogtertjie, Anán, het so drie jaar terug een aand op ons huis se stoep gesit, toe sy my uit die bloute vra om na die sterre te kyk,” vertel hy.

“Toe ek my aandag daarop fokus, besef ek hoe lank terug ek laas die sterre waardeer het. Toe Anán vir my sê om na die sterre te kyk, het haar woorde vir my amper geword soos ’n net wat my vang uit my gejaagde skedule en pas waarteen ek soms leef, en my net weer bewus maak van iets mooi en konstant soos die sterre en daaruit is die naam en idee vir die liedjie gebore.”

https://open.spotify.com/track/40U6O8AIUDB62oqjFrTdRz?si=hTY-wIgHR_uF2yBdHjOl2g

Hierdie besonderse lied spog met ’n opgewekte, speelse ritme en die lirieke sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme. “Ek weet almal sê dit altyd, maar wanneer ’n mens kinders kry, beleef jy weer baie dinge waarvan jy al vergeet het. Hopelik is die doel wat STERRENET bereik om iemand weer die mooi en opwindende dinge van die lewe te laat voel,” verduidelik hy oor die betekenis agter die woorde en wysie.

Joshua na die Reën het reeds drie suksesvolle albums op sy kerfstok en het – buiten vir Huisgenoot Skouspel en Gospel is Groot – al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen en Die Heuwels Fantasties gedeel.

Hy is ook deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met sy vriende en medemusikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Liani Reynolds en Douvoordag. “Daar was al ’n hele paar hoogtepunte in my musiekloopbaan, maar vir my bly dit ’n groot voorreg om tydens optredes musiek te kan maak saam met vriende wat regtig naby aan my hart is,” meen hy.

Die sanger, wat eersdaags ’n babaseuntjie ryker word, verklap dat hy baie opwindende planne vir die toekoms het, wat heel moontlik ’n toer na Europa (saam met sy orkes) gaan insluit. Oor dié opwindende moontlikheid, sê hy: “Ek sien ongelooflik uit daarna om my musiek met die mense daar anderkant te deel.”

As ’n mens Joshua na die Reën se vorige prestasies in ag neem, weet jy sommer dat STERRENET ’n reusetreffer gaan wees wat vir hom nog ’n hele paar aanhangers gaan inpalm.

Die liedjie is beskikbaar op sy album SOMERAARDE by www.jndr.co.za

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.jndr.co.za