fbpx
Jolanda Becker skilder musiek met haar splinternuwe MUSE

Jolanda Becker skilder musiek met haar splinternuwe MUSE

4.5 out of 5 stars

“Tussen die lyne, dis waar jy my hart sal kry.”  Met hierdie versreël nooi Jolanda Becker jou uit om die MUSE binne haar- en jouself te leer ken.

Dié album wat die Afrikaanse musiekgrense gaan verskuif, het uiteindelik die lig gesien en luisteraars kan gereedmaak vir ’n reis soos nog nooit vantevore nie.

Hierdie elfsnit-album beloof om luisteraars van die regdeur vasgevang te hou met diep lirieke en meesterlike musiekverwerkings elk met sy eie karakter en boodskap.

Jolanda Becker, met haar klassieke musiek agtergrond, verras die luisteraar hier met kontemporêre tog alternatiewe klanke. 

Wat die album laat uitstaan, is die feit dat sy self tien van die liedere se musiek en lirieke neergepen het. Elke lied is gefynkam en sagkens geskaaf tot ’n produk waarna die luisteraar kan uitsien.

Die elfde lied, ASEMLOOS, het reeds ’n draai oorsee gemaak en word tans verprei deur CAP Sounds, gebaseer in Duitsland.

Sedert 2017 werk sy noukeurig saam met Rian Swanepoel en Cobus Schutte om dié produksie wêreldklas te kry.

Jolanda Becker se veelsydige agtergrond in die musiekbedryf dra by tot die unieke klank en sang op die album; haar klassieke opera-opleiding in Italië, deelname in verskeie professionele operaproduksies en musiekteater, ’n dosentskap by TUT se Musical Theatre Departement en haar betrokkenheid by The South African Music Institute.

Verder spog sy met haar eie sangstudio (Jolanda Becker Vocal Lab) en studente wat reeds groot prestasies in die Suid-Afrikaanse-, sowel as internasionalemark verower het; Aitsa nominasies, SAMA en Fleur De Cap toekennings en Broadway World Awards, om net ’n paar te noem.

Saam met Christel van Heerden besit sy die Songwriter Society waar hul ’n platform bied aan opkomende skrywers. Sy reël graag skryfskole om jong kunstenaars se talente te help slyp en vorm.

Sy bied ook haar liedjieskryfdienste aan vir kunstenaars wat ’n breë spektrum van genres insluit – iets wat sy graag meer in die toekoms sal wil doen.

Jolanda is dankbaar vir die span wat haar gehelp het om haar hartsprojek te verwesenlik en sonder haar gesin uit as haar grootste ondersteuners.

Sit terug en ontmoet die muses in Jolanda se lewe – musiek, geloof, die liefde, familie, vriendskap en die hoop op ’n nuwe môre. Laat die akkoorde van MUSE jou nou verlei.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram