fbpx
Douvoordag straal soos die eerste lig!

Douvoordag straal soos die eerste lig!

Jattie & Ilse de Beer is die akoestiese duo van die groep Douvoordag. Hulle het destyds saam begin optree vir funksies en troues, en 11 jaar later maak hulle klanke steeds golwe in die musiekindustrie. Soos hulle naam, is hulle musiek vars en gryp hulle die geleenthede aan wat elke nuwe dag bied.

Douvoordag se musiek is kontemporêr met invloede van folk, pop en elektroniese musiek. “Ons sing graag oor positiewe temas sodat mense goed voel as hulle na ons musiek luister,” vertel hulle. Hulle wens is om hul musiek met soveel mense as moontlik te deel met die hoop dat dit mense op ’n persoonlike vlak sal aanraak.

Die tweemanskap het ’n baie suksesvolle 2019 gehad. Douvoordag is benoem vir ses Ghoema-toekennings en ’n SAMA-toekenning. Hulle is ook benoem vir drie Aitsa-toekennings waarvan hulle die toekenning vir “Nuweling van die jaar” ontvang het. Jattie het verder ’n Aitsa-toekenning ontvang in die kategorie “Musiek in ’n TV-program” vir “Kom ons gaan groot”, die temalied van kykNET se ontbytprogram, Die Groot Ontbyt. Dit is gesing deur Jo Black en Jattie was die medeskrywer daarvan.

Op Universiteit is Jattie se skryftalent reeds bekroon met vier “Beste oorspronklike komposisie” pryse vir serenade kompetisies. Sy musiekloopbaan het begin toe hy vanaf 2004-2012 deel was van ’n gospelgroep, Vertikaal. Hy het in 2009 ’n SAMA vir Vertikaal gekry, asook ATKV Lier-toekennings. Hy en Ilse het in hierdie tyd hulle loopbaan saam begin bou.

Dié knaap van Pretoria en nooi van Durbanville het mekaar in 2005 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. In 2008 het hul saam begin musiek maak en ’n jaar later het hulle getrou. Hulle vertel dat hul nooit probeer het om die industrie te betree nie, maar dat hulle net begin musiek maak het vir die liefde daarvan en die natuurlike vloei van hul loopbane gevolg het. Saam kan hulle sewe verskillende instrumente bespeel.

Hulle het verskeie vrystellings op hul kerfstok. UITSIG is in 2015 as hul eerste enkelsnit vrygestel. Daarna het DESEMBERS in 2017 gevolg en MANIFES in September 2018. SKRAPNEL is hul mees onlangse enkelsnit wat in Oktober 2019 vrygestel is. Douvoordag spog ook met twee enkelsnitte op die klankbaan van die Afrikaanse film, Mooirivier.

Hulle album het vier jaar geneem om saamgestel te word en DIE AVONTUUR is Oktober 2018 digitaal vrygestel. Dit  bekoor met unieke vertellings in die lirieke. Die titelsnit handel daaroor om jou drome na te jaag, om buite jou gemaksone te leef. “Om eendag te kan sê jy het gelewe, jy het vertrou, jy het ontdek en geskep, jy was lief.”

Daar is ook splinternuwe musiek aan die broei wat dié jaar vrygestel gaan word. Douvoordag is verder die nuutste toevoeging tot die Musiek soos Grond optredes, bestaande uit onafhanklike kunstenaars soos Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Liani Reynolds en Lizandra Winter.

Ons is so opgewonde en voel so bevoorreg om met julle te kan deel dat ons ongelooflike kunstenaarsvriende van Musiek soos Grond ons gevra het om by hulle aan te sluit! Elkeen van hierdie onafhanklike kunstenaars is super begaafd en ons kan nie wag om inspirerende, kwaliteit musiek en produksies vir julle te bring nie,” lui die Facebook-inskrywing van 24 Januarie op hulle blad. Lees meer oor Musiek soos grond by www.musieksoosgrond.co.za

Daar was ook al optredes saam met musikantvriende soos Roan Ash, Robbie Wessels, Jo Black & Leah. Steeds geniet hulle klein, intieme optredes die meeste. Optredes waar hulle met die gehoor kan connect op ’n meer persoonlike wyse. As daar een ding is wat hulle wil verander in die musiekindustrie, is dit ’n groter koopmark sodat meer kunstenaars ’n goeie lewe uit musiek kan maak en dat minder kommersiële musiek meer blootstelling kan kry.

Vir besprekings: Stuur ’n epos aan [email protected]

Hul musiek is beskikbaar op alle digitale platforms soos iTunes, Apple Music, Joox, Spotify, GooglePlay en YouTube Music, asook in goeie musiekwinkels.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter

Webblad: www.douvoordag.co.za