fbpx
Marius Lubbe maak sy debuut – DIS WAT SAAK MAAK

Marius Lubbe maak sy debuut – DIS WAT SAAK MAAK

Marius Lubbe beskryf homself as ’n openhartige mens met ’n passie en liefde vir musiek. Dié talentvolle musikant sing vandat hy ses jaar oud is en het pas sy amptelike debuut in die Afrikaanse musiekmark gemaak met die vrystelling van sy enkelsnit, DIS WAT SAAK MAAK.

Hierdie lekkerluister Afrikaanse popsnit, uit die pen van Vaughan Gardiner, fokus op dit wat regtig kosbaar is en die lewe vir almal ’n bietjie beter maak. “Deesdae is almal so behep met hulle eie welvaart dat hulle nie meer belangstel in hulle medemens nie. Die liedjie probeer die konsep vasvang dat ons vir mekaar moet omgee en help waar ons kan. Dit is op die ou einde al wat saak maak,” verduidelik hy. “Ek hoop ek kan hiermee vir ’n paar mense gee dat dit weer sal beter gaan en ander inspireer om nood raak te sien en te help waar hulle kan.” 

Buiten vir sy ryk, strelende stem wat die wysie van DIS WAT SAAK MAAK soos ’n handskoen pas, sal die positiewe boodskap van dié lied ook aanklank vind by gehore van alle ouderdomme.

Marius was van kleins af versot daarop om mense te vermaak. Nadat hy op skool deel was van ’n solosangopleidingsprogram, het hy geweet dat hy bestem was om op die verhoog te wees en het hy deelgeneem aan al wat ’n konsert en kompetisie is. Sedertdien het hy verskeie vertonings op sy kerfstok en vind hy dit terapeuties om sy musiek met gehore te deel.

Die kunstenaar geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder ADAM uit as sy grootste inspirasie. Hy verklap ook dat hy graag ’n onderwyser sou wou word as hy nie kon sing nie, omdat hy dit nog altyd geniet het om met mense te werk. 

As jy hom uitvra oor sy loopbaanhoogtepunte en waarmee hy homself nog besig hou, sê hy: “Ek is tans besig met die finalejaar van my BCOMP-graad by Belgium Campus Pretoria. Om my nuwe album te kon opneem, wat binnekort beskikbaar sal wees, en om saam met so ’n wonderlike en kundige span mense te kon werk, is vir my ’n groot hoogtepunt.”

Die musiekbedryf het vir Marius Lubbe geleer dat harde werk, respek en nederigheid baie belangrike bestanddele is as jy graag sukses wil bereik. DIS WAT SAAK MAAK is nie net ’n pragtige resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van daai liedjies wat jou sal bybly lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram