fbpx
Afrikaanse legendes vereer  in Pretoria

Afrikaanse legendes vereer in Pretoria

Dit is nie aldag dat jy soveel musieklegendes saam in een vertrek sal kry nie. Mimi Coertse, Min Shaw, Barbara Veenemans, David Gresham, Glenys Lynne & Clive Harding (Four Jacks and a Jill), Des & Dawn Lindberg, Lydia Winchester, Anneli van Rooyen, Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland, Amanda Strydom en Shaleen Surtie-Richards, om net ’n paar te noem, was almal bymekaar vir die opening van die eerste Suid-Afrikaanse Legendesmuseum.

Op 26 Januarie 2020 het die SA Legendesmuseum in Pretoria geopen. Liz Meiring was die seremoniemeester van dié geskiedkundige gebeurtenis. Verskeie kunstenaars en persone wat ’n reuse-impak op die musiekbedryf gehad het, is vereer as legendes vir hulle bydraes tot die toekoms van Afrikaanse musiek. Die museum en teater bring hulde aan sangers, akteurs, skrywers, radio- en TV-persoonlikhede van die laaste 100 jaar.

Die man agter die inisiatief is Shaun Mynhardt. Na talle gesprekke met verskeie legendes het hy agtergekom dat daar nêrens ’n plek in Suid-Afrika is waar sangers, akteurs, radio- & TV-persoonlikhede se nalatenskap vasgevang word vir die generasies wat kom nie.

Die museum het ontstaan uit die behoefte om die nalatenskap van die legendes van die laaste eeu vas te vang. Sodoende sal die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf behoue bly vir die generasies wat kom. Die eerste in sy soort, is die museum in Augustus 2019 gestig.

Altesaam 116 Suid-Afrikaanse legendes se bydrae en nalatenskap word in die gebou gevier. Legendes wat al oorlede is, is ook ingesluit. Die museum- & teaterkompleks se deure sal vanaf  4 Februarie 2020 oop wees vir die publiek.

Besoekers kan uitsien na wasstandbeelde en borsbeelde van hul gunsteling legendes. Daar is verder persoonlike gedenkwaardighede soos verhoogklere, toekennings en goue plate van die legendes wat besigtig kan word. ’n Videobiografie sal van elk van die legendes se uitstallings gespeel word.

“Dit was jammer om te verneem dat baie van ons legendes wat alreeds oorlede is se toekennings en verhoogklere, VHS-bande ensovoorts op die ashope beland het. Die families het nie geweet wat om daarmee te doen nie en daar was nie ’n museum wat goed van legendes in die vermaaklikheidsbedryf versamel het nie,” vertel Shaun.

“Ek was darem verheug dat ’n paar van die legendes se families van hul besittings bewaar het. Baie van hierdie besittings was aan die museum geskenk om uitgestal te word. Selfs van die legendes wat nog leef, het van hul toekennings en verhoogklere weggegee.”

Hier is ’n lys van die legendes wat vereer gaan word in die museum:
Cora Marie 
Bles Bridges
Gé Korsten
Min Shaw
Anneli van Rooyen
Johan Stemmet
Lydia Winchester
Glenys Lynne & Clive Harding (Four Jacks and a Jill)
Des & Dawn Lindberg
Janita Claassen
Manuel Escorcio
David Gresham
Kupido
Lance James
Mimi Coertse
Amanda Strydom
Al Debbo
Alvon Collison
Richard Loring
Jurie Ferreira
Virginia Lee
Gert Potgieter
Sias Reinecke
Tinus Esterhuizen
Gert van Tonder
Barbara Veenemans
Leonore Veenemans
Annette Engelbrecht
Zack du Plessis
Magda van Biljon
Willie Esterhuizen
Marga van Rooy
Riaan Cruywagen
Esmé Euvrard
Franz Marx
Siegfried Mynhardt
Wena Naudé
Anna Neethling-Pohl
Johannes Kerkorrel
Marie Pentz
Cobus Rossouw
Hennie Smit
Dulcie van den Bergh
Annelize van der Ryst
Brümilda van Rensburg
Annelisa Weiland

Vir meer inligting, besoek gerus die webblad: www.salegendsmuseum.co.za

Lees meer: https://www.plectrummusiek.co.za/die-eerste-suid-afrikaanse-legendes-museum-open-binnekort/