fbpx
Bly só 21 VIR EWIG saam met Sharoney!

Bly só 21 VIR EWIG saam met Sharoney!

Die talentvolle ster met haar borrelende verhoogpersoonliheid en onblusbare energie, Sharoneyis terug met die eerste enkelsnit en musiekvideo vanaf haar nuwe album wat beslis op elke musiekspeellys gaan koning kraai.

21 VIR EWIG spog met ’n splinternuwe, volwasse klank en is ’n unieke Pop-nommertjie, wat hemelsbreed verskil van dít waaraan aanhangers gewoond is. “Hierdie snit val lekker op die oor en is ’n saamsingtreffer wat jou voete sal laat jeuk om te dans. Dit is daardie tipe liedjie wat jy oral sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym, en dit gaan verseker maak dat jy vir ewig 21 gaan wil bly,” gesels sy oor dié langverwagte vrystelling.

Die liedjie, uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer, het ’n positiewe boodskap. Dit gaan daaroor dat die menslike gees nooit werklik verouder nie; dat jy spontaan moet leef en die beste moet maak van elke oomblik, want op die ou end is jy slegs so oud soos wat jy voel.

“Ek onthou my een-en-twintigste so goed soos gister, want ek bestempel dit as die ouderdom waarop jy regtig ’n volwassene word. Dan is jy jonk genoeg om dié tyd van jou lewe te geniet, maar oud genoeg om die herinneringe vir altyd te koester. Soms wens ek dat ek net vir ’n dag die horlosie kon terugdraai om weer so te voel.

Toe ek 21 VIR EWIG vir die eerste keer hoor, het ek net geweet dit moet deel wees van my volgende album, want die tema is van toepassing op elkeen van ons … jonk en oud,” vertel Sharoney wat baie opgewonde is om haar nuwe musiek met die wêreld te deel.

Alhoewel 21 VIR EWIG ’n sorgvrye tema en ’n moderne aanslag het, getuig dit ook van hoeveel Sharoney en haar musiek oor die jare gegroei het en dien dit as die perfekte lusmaker van die nuwe en opwindende rigting waarin haar loopbaan beweeg.

Fathom Media, saam met wie sy al ’n hele paar projekte aangepak het, was die kreatiewe brein agter die musiekvideo wat vanoggend om 10:00 eksklusief deur Jacaranda FM aanlyn bekendgestel is. Die video sal ook vanaand om 20:30 op VIA TV se Klink Soos Naweek vir die eerste keer op die kassie te sien wees.

Die video spog met ’n vars, moderne aanslag en wys vir kykers ’n nuwe kant van die sangeres. “Sharoney was nog altyd gewillig om nuwe dinge te probeer en ek glo dat hierdie ’n groot tree vorentoe gaan wees vir haar en haar loopbaan. Hierdie is net die begin,” sê Fathom Media se Jay Loots.

Volgens  Sharoney  was die doelwit van hierdie video om iets in Afrikaans te doen wat nog nie voorheen gesien is nie. Daarom het hulle besluit op ’n dansmusiekvideo wat voldoen aan internasionale standaarde. “Ons sien nie gereeld Afrikaanse musiekvideos wat maande se oefening, doelgemaakte kledingstukke en choreografie met ander dansers insluit nie, wat hierdie een dus baie uniek maak,” sê Jay.

Park Bench Studio was die perfekte plek om lewe te gee aan hierdie idee en  Sharoney en haar vier dansers kwyt hulle skitterend van hulle taak om die kyker deel te maak van die prettige atmosfeer op die skerm. “Die enigste boodskap wat hierdie musiekvideo inhou, is om die lewe te geniet en voluit te leef. Om nie een oomblik terug te staan nie, kanse te vat en dapper te wees. Alles word natuurlik uitgebeeld met die gebruik van baie helder kleure en teksture,” verduidelik die kunstenaar.

Sharoney  het beslis geen bekendstelling nodig in die Afrikaanse musiekbedryf nie. Oor die afgelope vyf jaar, het sy nie net diep in die harte van musiekliefhebbers kom kruip nie, maar ook twee Ghoema- en Huisgenoot Tempo-benoemde albums en sewe groot radiotreffers uitgereik.

21 VIR EWIG volg op haar vorige gewilde vrystelling, CRUSH, wat baie goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word. Die musiekvideo het reeds meer as 40 000 trefslae op YouTube gehad en is baie gewild onder die jongklomp.

CRUSH was die derde snit vanaf haar album, Skyn, wat in 2018 benoem is vir ’n Ghoema-toekenning vir Beste Popalbum Deur ’n Vroulike Kunstenaar. Die titelsnit het ook die nommer 1-posisie op Lekker FM se treffersparade beklee. Verder was dit ook verskeie weke onder die top 10 op Bosveldstereo se Afrikaanse Top 20, die kykNET Top 20 en VCR se Baanbrekers. Die musiekvideo kan steeds gereeld op die kassie gesien word.

Sharoney het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, geskryf deur ADAM se Hugo Ludik en Reynardt Hugo, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan al wat ’n treffersparade is, gekuier het.

Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en was dit ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het. 

Prinses, haar tweede enkelsnit uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo, was ook baie gewild en het dadelik lugtyd gekry oor die radio en op televisie. Die derde en vierde enkelsnitte, Fairytale en Wees My Held, het kort daarna gevolg en haar plek in die harte van Suid-Afrikaners verstewig en voortgebou op die sukses wat sy reeds bereik het.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy baie betrokke by liefdadigheidswerk. Verder is sy ’n gereelde gesig by funksies en feeste regoor die land. Tans is sy hard aan die werk met die opname van haar nuwe album wat in 2020 vrygestel word en is sy dankbaar vir elke geleentheid en hoogtepunt in hierdie hoofstuk van haar loopbaan.

Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms hier:
itunes

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.sharoney.co.za