fbpx
JNDR bied Kaapse bekoring

JNDR bied Kaapse bekoring

4 out of 5 stars

Joshua na die Reën het nie meer enige bekendstelling in die Afrikaanse musiekwêreld nodig nie. Sedert hy in 2014 naam gemaak het, speel sy musiek op elke radiostasie en staan hy gereeld tussen ander kunstenaars op groot verhoë. Amper almal het hom al “gehoor” maar daar het nog veel te min mense die bekroonde musikant “gesien”.

As jy nog nie ’n konsert van JNDR bygewoon het nie, dan mis jy uit. Want die stem op die radio of die man ver op die verhoog op jou televisieskerm het soveel meer te bied! Kleinkaap Boutique Hotel en JNDR het onlangs kragte saamgespan vir ’n unieke ervaring. Groot skadubome, tafels wat gekreun het onder staphappies en, die middelpunt van die samekoms, die mooiste musiek uit die pen van Joshua na die Reën.

Dié intieme konsert was die ideale ontspanne middag saam met familie en vriende. Die aanbieding was ’n perfekte kombinasie tussen sang en vertellings van die liedjies se ontstaan, sonder om die atmosfeer te oorheers. JNDR het konsertgangers geneem op ’n reis deur al drie sy albums en het selfs voorstelle uit die gehoor geneem.

Hy het verras met ‘n paar “Blues” treffers, sy ander liefde. JNDR se energie was aansteeklik, elke noot was net so afgerond soos die aanbieding deur Kleinkaap wat die totale ervaring onvergeetlik gemaak het.

Joshua na die Reën is deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond. Saam met mede-onafhanklike-musikantvriende, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Liani Reynolds en Douvoordag, hou hulle graag konsert. Hou die webblad dop vir meer inligting oor hulle volgende optrede.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.jndr.co.za