fbpx
Sincerely Anne – Opreg, eerlik en alternatief.

Sincerely Anne – Opreg, eerlik en alternatief.

Sincerely Anne laat jou in jou spore vassteek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing.

Daar is ’n hoendervleismooi opregtheid en strelende ondertoon in haar stem wat jou uitnooi om verlore te raak in haar betekenisvolle lirieke …

Jy wil aanhou luister na haar boodskap, totdat die finale noot stilgeraak het. Dit is hierdie eienskappe wat haar eerste enkelsnitvrystelling so onvergeetlik maak. 

POISON is ’n oorspronklike, moderne verwerking wat progressiewe-, alternatiewe- en pop-rock-elemente kombineer. Hierdie snit kom uit haar eie pen en behandel die nagevolge van negatiewe verhoudings en situasies.

“Gewoonlik laat ek die gehoor toe om my musiek op hulle eie manier te interpreteer. As ek egter moet opsom waaroor die liedjie vir my gaan, sou ek sê: om in ’n giftige interpersoonlike omgewing ingetrek te word, kan blywende gevolge op jou gemoedstoestand hê,” verklap die talentvolle musikant en liedjieskrywer.

“Ek kom uit ’n situasie uit wat my baie afgetrek het. Die liedjie is die resultaat van hoe ek my gevoelens uitgedruk het en die lirieke het deur middel van my joernaal en ’n droom na my toe gekom.”

Volgens die sangeres, het sy in die verlede liedjies geskryf as deel van die groepe waarby sy betrokke was. POISON was die eerste liedjie wat sy self gekomponeer het.

Sy deel: “Dit was die eerste liedjie waarmee ek ateljee toe is en die begin van ’n baie bevredigende reis, waarop ek met soveel wonderlike mense kon werk. Ek dink luisteraars sal aanklank vind by die boodskap en musiek en as ek net een persoon minder alleen kan laat voel hiermee, het ek in my doel geslaag.”

Anne woon tans in Johannesburg, maar het op ’n plaas grootgeword en tuisonderrig ontvang totdat sy dertien was. Sy is die jongste van vyf kinders en was baie jonk toe sy leer viool speel het.

Sedertdien het musiek ’n integrale deel van haar bestaan geword. Sy het vir negentien jaar lank viool gespeel by funksies en vir vyf jaar lank in groepe gesing. Sy begin in 2017 haar sololoopbaan en beskou dit as een van haar grootste prestasies tot op hede.

Deur die jare het sy baie loopbaanhoogtepunte bereik en die verhoog gedeel met van die grootste name in die musiekbedryf: Connell Cruise, Ard Matthews, Joshua na die Reën, Jan Blohm, Amanda Strydom, The Graeme Watkins Project, Shortstraw en Shaun Jacobs.

Sy was ook, as konsertmeester en violis, betrokke by orkeste soos die NWU PUK-orkes en die Randse Simfonieorkes. 

Die kunstenaar het waardering vir ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Muse uit as een van die groepe wat die grootste invloede op haar eie outentieke musiekstyl gehad het.

“Ek het hoofsaaklik klassieke musiek geluister totdat ek tien was en aan kontemporêre genres bekend gestel is.

“Enige styl musiek wat klassieke elemente bevat, trek my dadelik. My eie werk verskil egter van dag-tot-dag en die invloed agter elke liedjie is anders,” vertel die sanger.

As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit soms van persoonlike ervarings en emosies kom.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, gee sy viool- en klavierlesse om die pot aan die kook te hou. Sy verklap dat sy heel moontlik ’n loopbaan in sielkunde of fisiologie sou oorweeg het as sy nie kon sing nie.

Sincerely Anne glo dat geleenthede aangegryp moet word. Jy moet nooit jou drome en doelwitte uitstel nie.

Sy wil graag hê dat haar musiek ’n uitdrukking moet wees van dit wat mense voel, maar nie altyd weet hoe om te hanteer nie. Met POISON oortref sy nie net hierdie doelwit nie – sy anker ook haarself vas in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers en op die trefferparades van die land se grootste radiostasies.

https://open.spotify.com/album/4lmht78isaBFsZn5O2U4dX

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, YouTube

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui