fbpx
AB de Villiers, Karen Zoid en Ndlovu-jeugkoor sing THE FLAME

AB de Villiers, Karen Zoid en Ndlovu-jeugkoor sing THE FLAME

The Flame - Karen Zoid, AB de Villiers en NDlovu Youth Choir

AB de Villiers, Karen Zoid​ en Ndlovu-jeugkoor​ het kragte saamgesnoer om ’n lied van vreugde, inspirasie en hoop op te neem – THE FLAME. Onwaarskynlike popster AB de Villiers verduidelik waarom THE FLAME ​vir hom belangrik is. THE FLAME is nou op alle groot stromingsplatforms beskikbaar.​

AB de Villiers, Karen Zoid​ en Ndlovu-jeugkoor​ het kragte saamgesnoer om ’n lied van vreugde, inspirasie en hoop op te neem – THE FLAME.​ Ná wat vir Suid-Afrika en die res van die wêreld ’n moeilike en veeleisende jaar was, hoop hulle om ons nasie met die nuwe enkelsnit en musiekvideo vir THE FLAME te inspireer en op te hef.​         

Maar hoe het dit gekom dat ’n krieketheld, ’n rockster en ’n geliefde koor saamgewerk het aan THE FLAME? AB de Villiers​ verduidelik: “Ek en Karen Zoid het in 2019 ’n ruk lank saam musiek geskryf. Ons wil mense inspireer, ’n boodskap oordra en ’n verskil in ander se lewens help maak.

Ek het gedurende ons skryfsessies baie nagedink oor die uitdagings waarvoor ek as ’n krieketspeler te staan gekom het, en die ooreenkomste met die daaglikse lewe. Ons het nie toe ’n benul gehad dat COVID op pad was nie, maar ons het nietemin gevoel die wêreld kort ’n positiewe boodskap.”

Maar teen die tyd wat hulle die lied in 2020 wou opneem, het ’n legio tegniese uitdagings hulle in die gesig gestaar, met AB in Dubai, Karen in Kaapstad, en die Ndlovu-jeugkoor in Limpopo – almal vasgekeer weens die inperking. 

Karen vertel: “Uiteindelik moes ons elkeen ons deel van THE FLAME’ afsonderlik opneem en dit so op ’n afstand vervaardig. In die​ koor sing ek byvoorbeeld ‘We fan​ the flame’, terwyl die ander sing ‘We found​  the flame’. Die vlam, ’n flentertjie vuur, was nog altyd vir mense op ’n fisiese én metafisiese vlak ’n simbool van groot hoop. Ek kon seker teruggegaan het om my deel oor te doen om by die ander stemme te pas, maar ek het nie, want dit het op ’n manier reg gevoel dat myne verkeerd was.

Party van ons vier hoop, en ander soek nog daarna. Maar ons wil almal ’n lied van hoop sing. Uit ’n onvolmaakte lied en ’n onvolmaakte wêreld kom daar wél beeldskone dinge na vore. Dit was nog altyd so, en sal altyd so wees.” “Out of imperfect songs and an imperfect world​ beautiful things do transpire. They always have and thealways will

Die video bevat tonele van Karen en die Ndlovu-jeugkoor by Supersportpark, Centurion, sowel as selfskote van AB in Dubai, waar hy nog tot in November vir die IPL-toernooi sal wees. 

Onwaarskynlike popster AB de Villiers verduidelik waarom THE FLAME ​vir hom belangrik is: “Vir my is dit ’n lied van volharding,​ spanwerk en karakter. Dit laat my dink aan ons uitdagings in Suid-Afrika met geslagsgebaseerde geweld, ’n hoë misdaadsyfer en rassisme – en ek weet ons het ’n spesiale energie hier wat jy nêrens anders ter wêreld kry nie. Om deur die vlamme te loop en in moeilike tye deur te druk maak ons sterker as ’n nasie, en ek weet ons sal aanhou uitstyg.”

Karen Zoid, AB de Villiers & Ndlovu Youth Choir – THE FLAME

Karen stem saam met AB, en voeg by: “Partykeer in die lewe is ons omring deur skoonheid, en ander kere, soos in 2020, moet ons diep in onsself gaan delf vir krag en passie. Diegene wat al voorheen swaargekry het, vind dit nou makliker om uit te hou en aan te hou. Maar dan het dié wat nog nooit moes swoeg en sweet nie dalk ook meer kragreserwes opgebou om die storm te deurstaan, want hulle ken nog nie die pyn van onsekerheid nie.”

Die Ndlovu-jeugkoor het wêreldroem verwerf op America’s Got Talent​  ​ en dra iets geesverheffends tot THE FLAME​ by. Koorleier​ Ralf Schmitt sê hulle was baie in hulle noppies omdat hulle by die projek ingesluit is: “In onseker en onstuimige tye bly die wêreld verenig in ons liefde vir musiek, sport, kuns en kultuur. Saam met Karen Zoid en AB de Villiers het ons hierdie passies byeengebring om nie net te inspireer nie, maar ook hoop en warm harte te skep.”

THE FLAME is nou op alle groot stromingsplatforms beskikbaar.​  

http://platoon.lnk.to/the-flame

SOSIALE MEDIA

Karen Zoid: Facebook, Instagram

AB de Villiers: Instagram

Ndlovu Youth Choir: Facebook, Instagram

LEES MEER

“Toe die wêreld stil gaan staan” – Karen Zoid met Neil Sandilands en Early B.