fbpx
ADAM is terug met ‘n nuwe enkelsnit en groeplid

ADAM is terug met ‘n nuwe enkelsnit en groeplid

Adam Liefde Is Omslagontwerp

Die aap is uit die mou! Aaanhangers van ADAM kan breed glimlag, want hul gunsteling groep is terug met ‘n nuwe groeplid en enkelsnit.

In Augustus 2019 het ons besluit om ADAM eers vaarwel te roep en Reynardt Hugo het besluit om sy solo-loopbaan ’n kans te gee.

Christoff de Beer, of Stoff soos almal hom noem, sal voortaan Reynardt Hugo se plek in die groep volstaan.

LIEFDE IS is ’n goedvoel popliedjie oor ’n paartjie wat in verskillende dorpe vasgevang is gedurende grendeltyd.

Die aap is uit die mou… en aanhangers van ADAM kan voorwaar breed glimlag, want hulle gunsteling-mansgroep het ‘n nuwe groeplid en is terug op die verhoog!  Boonop spog hulle ook met ‘n splinternuwe enkelsnit!

In 2019 het musiekkringe gegons na die aankondiging dat dié bekroonde musiekgroep nie meer saam gaan optree nie en hulle afwesigheid het beslis ’n baie groot leemte in die Suid-Afrikaanse musiekmark gelaat.

“In Augustus 2019 het ons besluit om ADAM eers vaarwel te roep en Reynardt Hugo het besluit om sy solo-loopbaan ’n kans te gee”,  sê Hugo Ludik, die oorspronklike stigterslid van die groep.

“My ateljee, MUSE STUDIOS, is by my huis en ek was gelukkig om gedurende grendeltyd te kon ‘werk’ en kreatief wees in ’n moeilike tyd waar daar nie vreeslik baie ander geleenthede was nie. Alhoewel ons op ’n daaglikse basis vir ander mense liedjies skryf, was ADAM nog altyd my manier om my eie liedjies ten toon te stel en ek het dit gemis. Na grendeltyd, voel dit asof ons met ’n nuwe lewe begin. Dit het baie dinge vir my en Kyle in perspektief geplaas en ons het albei in ons harte besef ons is nog nie klaar met ADAM nie. Projekte begin stadig-maar-seker weer optel, ek trou amper en werk nou permanent saam met die Rubber Duc / Posduif  manne om vir ander kunstenaars musiek te vervaardig. Ek was lanklaas so gelukkig… maar een ding kort en dis om weer lewendig op te tree en nou kan ons dit weer doen.”

Om hulle terugkeer na die kollig te vier, het die trio – wat nóú bestaan uit Hugo, Kyle Grant en Stoff de Beer – pas ’n splinternuwe enkelsnit uitgereik wat beslis luisteraars se stoutste verwagtinge gaan oortref.

LIEFDE IS is ’n goedvoel popliedjie oor ’n paartjie wat in verskillende dorpe vasgevang is gedurende grendeltyd. Die ou sit en wonder hoe dit met sy meisie gaan en of hulle verhouding dit gaan oorleef. Dan besef hy dat hulle liefde nog altyd bly staan het, ongeag van alles wat hulle al moes deurmaak, en dat hulle hierdie struikelblok ook sal oorkom.

“Sekere liefdesverhale en verhoudings het net daardie spesiale iets wat maak dat dit selfs deur die moeilikste tye oorleef het. Daardie verhouding is rotsvas,” verduidelik Hugo, wat die liedjie saam met Nic Jordaan van Posduif/ Rubber Duc geskryf het. “My verhouding met my verloofde voel vir my so… en baie van die liedjie beskryf ons verhaal. LIEFDE IS is ’n baie energieke, goedvoel-liedjie wat gaan maak dat jy nostalgies voel, maar ook wil dans. Dis iets positief na ’n redelike donker tyd en ons hoop  luisteraars gaan dit geniet en kliphard speel!”

Volgens Kyle, die hoofsanger, gaan die musiekvideo aansluit by die lighartige tema van die liedjie en word liefde op die skerm uitgebeeld as ’n kleurvolle ‘neon’-partytjie. “Die video word binnekort geskiet en gaan modern en sexy wees met neonligte, mooi meisies en puik dansers,” verklap hy. “RM Productions gaan dit in die ateljee vervaardig en ek gaan die regie behartig. Ons wil graag ’n internasionale gevoel na die Afrikaanse mark bring en is baie opgewonde om ons idee met bewonderaars te deel.”

ADAM maak al sedert 2011 opslae in die Afrikaanse vermaakbedryf en het al talle musiektoekennings (Ghoema en SAMA), goue albums en radio-treffers op hulle kerfstok, en is veral bekend vir liedjies soos Liefde SoldaatKasteelGebore Om Jou Lief Te HêGoudHoogtevreesSal Oorlog Vir Jou MaakSê MyIets In Die Wateren vele meer.

Hulle energieke optredes, unieke klank en pragtige lirieke het van die begin af aanklank gevind by gehore van alle ouderdomme en vir hulle optredes losgeslaan by van die grootste geleenthede, feeste, skoue en funksies in die land.

Christoff de Beer, of Stoff soos almal hom noem, sal voortaan Reynardt Hugo se plek in die groep volstaan. Hierdie veelsydige musikant werk al vir sestien jaar in die musiekbedryf en was deel van groepe soos Roots of Youth, Rymstoff en 7 Grade Noord. Hy was ook vir drie jaar Kurt Darren se hoofkitaarspeler.

Hy beskryf homself as ’n plat-op-die-aarde-ou, wat aanklank vind by musikante soos Bon Jovi, Machine Gun Kelly, Blue October en 1975, ’n lekker braai geniet en in sy vrye tyd rugby afrig. Hugo en Kyle is vir hom ’n groot inspirasie en hy opgewonde om sy rol as mede-sanger en -kitaarspeler in die groep te vervul.

“Saam met Kyle en Hugo is elke dag ’n fees. Hulle maak musiek weer lekker en gee my die kans om net weer myself te kan wees, eerder as ’n gewone sessiemusikant wat alles perfek moet doen,” sê hy. Hugo voeg by: “Ek en Christoff ken mekaar al lank en het al verskeie kere in die verlede saamgewerk. Hy het ook vir ’n rukkie ingestaan by ADAM voordat Kyle by ons aangesluit het. Ek het regtig baie respek vir hom as mens en musikant.”

Volgens ADAM, is LIEFDE IS die perfekte lusmakertjie vir wat hulle vir die toekoms beplan. “Ons is baie trots op die liedjie en dit was nog altyd vir ons belangrik om met moderne klanke en melodieë vorendag te kom. Ons is baie lief vir ons taal en glo dat wat ons doen nie hoef terug te staan vir internasionale popmusiek nie. Gedurente grendeltyd het ons baie nuwe musiek geskryf en ons kan nie wag dat mense dit moet hoor nie!”

LIEFDE IS is nou aanlyn beskikbaar. Laai dit hier af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Twitter

Web: www.adamband.co.za

LEES MEER

Die lewe is wat jy daarvan maak, sing Kyle Grant en Taye Brink

Reynardt Hugo se eerste solo-enkelsnit!