fbpx
Die lewe is wat jy daarvan maak, sing Kyle Grant en Taye Brink

Die lewe is wat jy daarvan maak, sing Kyle Grant en Taye Brink

Een ding is seker – die dood is genadeloos. Dit kom en ruk mense uit jou lewe vir wie jy lief is, en gooi al jou drome stukkend op die vloer. Dit spaar niemand nie – nie eers een mens sal dit vryspring nie.

Saam met die dood kom die hartseer, en na die hartseer kom die verlange, die eerste verjaardag, die eerste Kersfees en die eerste van baie ander eerstes. Al wie agterbly is jy.

Die aanvanklike seer is groot, maar dan kom die troos in die wete dat jou geliefdes voortleef en na jou kyk deur die oë van engele. Skielik is jy oukei; hulle is by jou.

So verduidelik Kyle Grant en Taye Brink wanneer hul oor hul nuwe enkelsnit DEUR ENGELE OË praat.

Kyle en Taye het elkeen ’n groot anker in hul lewe aan die dood afgestaan – Kyle sy pa en Taye haar oom. Vir die twee musikante was dit ’n tyd van beproewing waarin hul sonder hoop gelaat is. Nou wil hul juis hoop besing aan ander wat hulself in ’n soortgelyke situasie bevind.

DEUR ENGELE OË is geskryf deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik, en vervaardig deur MUSE Studios.

Die opgeruimde lied met sy dieper lirieke verseker die luisteraar dat jou lewe steeds gelei word deur jou geliefdes self in hul afwesigheid. 

Geen ander kunstenaars kon hierdie mantra beter oordra en vertolk as Kyle en Taye nie. Die duet tussen twee wêreldklassangers is ontsagwekkend.

Kyle Grant, wat bekendheid verwerf het as lid van die groep ADAM, het onlangs sy sololoopbaan afgeskop. Saam met ADAM spog hy reeds met ’n reeks toekennings wat ses Ghoemas en ’n SAMA insluit.

Vir meer as 17 jaar al is hy aktief in die kunstewêreld waar hy as sanger en akteur opgetree het. Hy het ook onder andere die rol van Link Larkin vertolk in die musiekblyspel Hairspray wat in 2007 in Suid-Afrika op die planke was.

Sy waardering vir dieper musiek en lirieke is duidelik wanneer jy na sy vorige enkelsnitte, GROWN UP CHRISTMAS LIST en I WANT IT TO BE ME, luister.

Taye, wat al vir nege jaar aktief optree in die musiekbedryf, spog reeds met meer as ses suksesvolle vrystellings en het ’n paar internasionale optredes agter die blad. 

In 2014 het sy die geleentheid gekry om saam met Nate Butler ’n Engelse enkelsnit op te neem, en beskryf dit as een van haar hoogtepunte tydens haar Amerikaanse loopbaan.

Met haar vorige enkelsnitte, WAT AS en OOR DIT, het sy reeds bewys dat sy ’n gesoute kunstenaar is.

Die twee se luisterryke stemme maak dit duidelik dat hul musikale invloede oor ’n wye spektrum strek. Van Sting, Boyz II Men, Paulo Nutini en Chris Chameleon tot Carrie Underwood, Elvis Presley en Dolly Parton.

Hul rou en opregte liefde vir musiek is opvallend. Juis daarom gaan hulle die harte van baie aanraak met hul enkelsnit DEUR ENGELE OË.

Die lied is tans beskikbaar op alle digitale platforms en daar word reeds beplan aan ’n musiekvideo.

Ons wil ons lewensverhale met ander deel en mense herinner dat die lewe is wat jy daarvan maak. Onthou dit!

DEUR ENGELE OË gaan sommer gou deel raak van jou persoonlike speellys en vir nog baie lank daarop bly.

Kyle Grant Taye Brink
SOSIALE MEDIA
Facebook, Twitter, Instagram Facebook, Twitter, Instagram
BESPREKINGS
[email protected] Charlain Ferreira – 072 551 2686