fbpx
Carma se enkelsnit, Oase, gaan jou siel voed deur tye van droogte

Carma se enkelsnit, Oase, gaan jou siel voed deur tye van droogte

Met OASE, Carma se nuwe enkelsnit, wil sy mense se harte aanraak. Met die treffende boodskap – elke donker tyd gaan tog gepaard met groei – sal luisteraars verkwik word met die gedagte aan ’n silwer rand om elke donker wolk.

OASE , uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer, is geskryf vir Carma om die goue dele in haar stem te beklemtoon. Die liedjie lê baie na aan Carma se hart, want dit is geskryf kort na die afsterwe van haar Ma.

In so hartseer tyd was daar ook ’n oase van my Ma af – ’n finansiële bydrae tot my droom.

Deur my droom nou uit te leef, verwerk ek ook só die seer en die verlange na my Ma,” vertel sy.

Dit is byna soos ’n voltooide sirkel, want my Ma het al baie hartseer in die lewe ervaar en nou is sy by haar eie oase – aan die voete van die Here,” verduidelik Carma.

OASE is haar eerste liedjie wat deur iemand anders geskryf is – sy skryf en komponeer haar eie musiek. Johan Oberholzer is bekend vir sy treffers en sy wou graag saamwerk met die beste van die bestes.

Die musiekvideo vir dié liedjie is reeds verfilm, en die uniekheid van ’n pragtige ontwerpersrok, die duine soos Namibië (net buite Krugersdorp) en ’n interessante haarstyl, sal sorg vir die uniekheid van die video.

Met ’n kragtige ballade soos hierdie – en die country-aanslag wat ingewerk is – sien Carma uit daarna dat dié liedjie in die kol sal wees vir enige geleentheid.

Mense moet na OASE wil luister vir hoop, as hul hartseer is, as hulle nostalgies wil raak, en ook as hulle sommer net nuwe en goeie herinneringe wil maak,” sê sy.

OASE kan geluister word op iTunes, Google Play, Spotify en alle digitale musiekplatforms.

Carma is ook ’n onderwyseres van Potchefstroom wat glo dat elke droom wat ’n mens het deur God in jou geplaas is. Dit is juis daarom dat sy nooit sal ophou werk om haar droom te bereik nie.

Haar eerste enkelsnit SONDER LIEFDE, wat sy self geskryf het, word gereeld op radiogolwe gehoor en was vir ses weke lank op een van die land se voorste radiostasies se top 20-ranglys.

Volg Carma gerus op sosiale media platforms om op hoogte te bly van haar optredes en vrystellings.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram