fbpx
Anton Thomas – Soms

Anton Thomas – Soms

Die Johannesburgse sanger Anton Thomas se nuutste enkelsnit SOMS is ‘n liedjie met ‘n country-skop, maar dit beweeg weg van die meer tradisionele klanke en die resultaat  ‘n pure rock/country-plesier.

Met dié liedjie het Anton probeer om verskillende genres te meng. “Ek is mal oor country en ek hou ook van sekere elemente van rock. Ek dink het ek daarin geslaag om met ‘n splinternuwe klank vorendag te kom,” vertel hy.

Anton het veral bekendheid verwerf het toe hy aan Patricia Lewis se Supersterre deelgeneem het. Sedert sy deelname het hy op verhoë regoor die land opgetree, by verskeie kuierkroeë gesing en ook by verskeie troues opgetree.  

Anton skryf sy eie liedjies en SOMS is ook een van sy pennevrugte. SOMS, verduidelik hy, is gegrond op emosies wat net in liedjies tot uiting gekom het.

Soms is ‘n persoonlike liedjie wat handel oor die swart tye waardeur hy in sy eie lewe moes worstel. SOMS is ook in verskeie opsigte ‘n liefdesliedjie. “Dit is ‘n liedjie waarna paartjies kan luister en tevrede voel dat hulle saam die storms trotseer het.”

Die titel van die liedjie SOMS het ‘n denotatiewe en konnotatiewe betekenis: eerstens, dui dit op die letterlike betekenis dat ‘n vrou soms nie goed genoeg voel vir ‘n man nie en dan ook die omgekeerde. Tweedens, is dit ‘n metafoor wat ‘n platform skep vir ‘n paartjie om hulle gevoelens uit te beeld.

Anton beskou homself as ‘n liefdesliedjieskrywer. “My liedjies handel meestal oor situasies, emosies en omstandighede binne ‘n liefdesverhouding. Ek poog altyd om liedjies te skryf wat die positiewe kant van die liefde uitbeeld, en nie die negatiewe nie. Ek glo dat God liefde is, en ek glo ook dat die liefde ‘n werklike teenwoordigheid van wie God is.”

Hy sê die meeste van sy kreatiewe idees word in die vroeë oggendure gebore. “Dit is emosies wat in woorde uitgebring word. Ek sing dit sonder dat ek weet wat die volgende noot of woord gaan wees. Ek neem die rou weergawes op en verwerk dit dan totdat dit reg voel.”  

Anton, wat homself bedags besig hou met navorsing oor kriptovaluta, het bykans ‘n dekade gelede sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak.  Verskeie liedjies waaronder die gewilde Bokke Bo, wat goed deur plaaslike radiostasies en luisteraars ontvang is, het uit sy pen verskyn.

Daar het nog nie ‘n vollengte-album uit die Thomas-stal verskyn nie, maar Anton sê hy het genoeg liedjies vir twee albums. “As die tyd reg is, sal daar wel ‘n album verskyn,” knipoog hy.

Anton vertel spottenderwys dat sy musikale rolmodel nog  altyd Elvis Presley was. “Mense het my egter Elvis begin noem. Ek weet hulle het dit as kompliment bedoel, maar ek wil net Anton Thomas wees. Niemand anders nie.” Storm is ‘n radiovriendelike luisterliedjie wat by oud en jonk sal byval vind. Anton se stem is diep en ryk en dit is ook waarom hy perfek binne die liefdesliedgenre pas.

SOSIALEMEDIA

Facebook