fbpx
Callie is terug met ‘n roerende nuwe snit – VADERLAND

Callie is terug met ‘n roerende nuwe snit – VADERLAND

Dit is slegs ‘n maand nadat die Pretoriase sanger, Carel Sebastiaan (of sommer net Callie) sy eerste enkelsnit die lig laat sien het. Maar hy is weer terug op die radiospeellys met ‘n donker rock-enkelsnit, VADERLAND, wat die onheilspellende atmosfeer van die grendeltydperk goed vasvang.

Dit is dalk te danke aan die meesterkitaarwerk van Mark Beling van Mean Mr Mustard-faam. “Ek het ‘n voorliefde vir rock-musiek. En ek dink my musiek en lirieke word in ‘n mate beïnvloed deur Dire Straits en Pink Floyd,” vertel Callie. “Die idee was nie oorspronklik om ‘n donker liedjie te skep nie. Maar soms draai ‘n liedjie anders uit as wat ‘n mens beplan het.”

Callie, wat eers op die rype ouderdom van 49 tot die musiekbedryf toegetree het, het ‘n diep bariton. ‘n Stem wat perfek by die lirieke aansluit. Sy eerste enkelsnit Kol op die maan was ‘n metafiktiewe storievertel-liedjie wat so tussen verskillende genres rondbeweeg. Met VADERLAND beweeg hy egter in ‘n suiwer rock-rigting.

Callie het VADERLAND sowat drie jaar gelede – tydens sy pa se stryd met kanker – neergepen. Dit was vir hom ‘n donker tydperk waar hy nie net ‘n egskeiding moes trotseer nie, maar ook sy pa se diagnose en daaropvolgende afsterwe.

Die pyn, het uit die aard van die saak, ook neerslag in sy lirieke gevind. “Ek het gesukkel om die dinge wat aan die gebeur was te verstaan.

“Ek het begin wonder of die son wel die volgende dag sou skyn… die vrae het ook aanleiding gegee tot diep gedagtes oor ons pragtige land en die negatiewe aspekte wat besig was, en nogsteeds is, om alles in duie te laat stort.”

VADERLAND getuig ook van ‘n diep liefdesverhouding met Suid-Afrika. “Ek is die elfde generasie wat in die land woon. Net soos my pa, my grootouers en ook agtergrootouers, wil ek ook aan my land, my Vaderland, bou en nie afbreek nie.”

VADERLAND is ‘n patriotiese liedjie wat nie net om liefde vir mekaar pleit nie, maar ook om rassevrede. “Aan die einde van die dag wil almal net graag ‘n toekoms vir hulle self en hulle kinders bou.”

Callie is baie lief vir Suid-Afrika en glo wel dat die land eendag van sy pyn en woede ontslae sal raak. “Ek is ‘n optimis en glo dat elke mens inherent goed is – ons moet deur moeilike tye daar wees vir mekaar. Ek glo ook dat as mense nader aan God beweeg, sal hulle ook nader aan mekaar beweeg.”

VADERLAND is rou en opreg. ‘n Liedjie wat veral by luisteraars wat van diep lirieke hou byval vind. Die liedjie is deur Mark Beling opgeneem en vervaardig.  

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook

Lees meer:
Callie skop ‘n storm op met sy enkelsnit, KOL OP DIE MAAN. – Plectrum (plectrummusiek.co.za)