Callie skop ‘n storm op met sy enkelsnit, KOL OP DIE MAAN.

Bykans vyf jaar nadat ‘n 49-jarige sanger van Pretoria, Carel Sebastiaan (of sommer net Callie), sy eerste konsert in die Atterburry-teater aangebied het (sommer net omdat hy kon), het hy uiteindelik sy eerste enkelsnit vrygestel. Die wag was beslis die moeite werd, want KOL OP DIE MAAN is ‘n metafiktiewe storievertel-liedjie wat so tussen verskillende genres rondbeweeg.

En net soos die legende Lance James, het Callie se stem so metterjare ook soos ‘n goeie 1983-oesjaar geword; ryp, goedgedruif. Hy beweeg met gemak tussen ‘n bariton en tenoor en klouter oor die laer note net so rats soos ‘n katjie in ‘n boom.

Dit is juis waarom die nou 53-jarige sanger se KOL OP DIE MAAN, wat hy ook self neergepen het, so ‘n groot verrassing is. Want Callie erken ruiterlik dat hy nie té veel van musiek af weet nie.

“Toe ek so agt jaar oud was, het ek self probeer om die kitaar te bemeester. Dit was daardie jare nogal moeilik om die kitaar te bemeester. Want daar was toentertyd nie iets soos ‘n YouTube of Ultimate Guitar om jou te help nie. Dus, wat ek vandag weet, het ek myself geleer. My musieklewe was maar so op-en-af, met geen noemenswaardige hoogte- of selfs laagtepunte so tussen werk en familie deur nie.”

Callie het eers op 45 regtig begin sing, en glo hy moet liedjies kies wat by sy stem pas.
“Soms sukkel ek om by die hoër note uit te kom,” lag hy. “Ek oefen dalk nie my stem genoeg nie, maar sing genoeg om dit net lekker geolie te hou. Ek sal soms so tweeuur in die oggende wakker word, my kitaar gryp en sing tot die son opkom.”

KOL OP DIE MAAN is ‘n lekker luisterliedjie en vertel ‘n storie. “My pa, wat sowat ‘n jaar na my Atterburry-teater optrede oorlede is, het my aangmoedig om my eie liedjies te skryf. Hy het beweer dat daar soveel Afrikaanse musiek is en dat dit tyd is om weer iets ordentliks te doen. Wel, dit was my pa se mening ….”

Hy het kort voor sy pa se dood liedjies begin skryf. KOL OP DIE MAAN was een van die liedjies wat uit sy eie pyn en verdriet oor sy pa se dood, gebore is.

KOL OP DIE MAAN vertel ‘n fantasiestorie oor ‘n oupa en kleinseun wat op die metaforiese boot, Die Swan klim. Hulle vaar dan na ‘n eiland waar daar net liefde is. “Die liedjie sinspeel op die soeke na liefde en aanvaarding. En as ons liefde in ons harte het, moet ons dit mos deel, of hoe?”

“Die oupa, wat ‘n eksentrieke ou man is en sy kleinseun gaan soek saam na liefde. En as hulle dit vind, deel hulle dit met almal.” Callie sê hy is nie die oupa nie, want “ek het op 32 eers pa geword,” maar ek dink ek is eerder kunsinnig as eksentriek. Daarom is die oupa nie regtig op iemand gegrond nie. Die boodskap is gerig op almal; en die boodskap is om liefde te deel.”

Dié kol op die maan, sê hy, is ook ‘n metafoor vir die moeilike tye waardeur ons almal soms gaan. “Ons almal kan nie altyd gelukkig wees nie, maar ons kan probeer om meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees.”

KOL OP DIE MAAN is kolskoot vir die nuwe grendeltyd-musiekbeweging en ons hoop datdaar nog meer sulke tipe fantasieliedjies uit Callie se pen gaan verskyn.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook