fbpx
Suster-duo, Klawer stel DANS IN DIE REEN vry

Suster-duo, Klawer stel DANS IN DIE REEN vry

Die gewilde Suid-Afrikaanse suster-duo, Klawer, is terug in die kollig met hulle heel eerste kortspeelplaat, DANS IN DIE REEN. Die enkelsnit gaan nie net voortbou op die unieke moderne country-popstyl waarvoor hulle bekendheid verwerf het nie. Maar dit sal ook die kieskeurigste musiek-oor tevrede sal stel.

Klawer, wat bestaan uit Inge Fanoudis en Martinique Latsky, se nuwe projek kombineer die lekkerluistermelodieë en hoendervleismooi lirieke van drie oorspronklike snitte. Al drie het gevloei uit Martinique se pen wat sommer dadelik diep in jou hart kruip wanneer jy dit hoor.

Die titelsnit gaan oor twee verliefdes wat terugdink aan hulle kinderjare saam, toe hulle nog sorgvry kon saam dans in die reën. “Dit is gedurende die droogtetyd in die Weskaap geskryf en is ’n lekkerluister-liedjie wat by oud en jonk sal aanklank vind,” deel hulle.

’n Musiekvideo van die snit sal ook binnekort beskikbaar wees. Dit is op Picardi Gasteplaas in die Paarl geskiet, waar die meisies grootgeword het. Dit begin waar die twee nog klein is en gelukkig saam onder ’n sambreel in die reën sit en eindig ook weer so waar hulle volwassenes is.

“Ons is susters en baie na aan mekaar. Met hierdie debuut-musiekvideo, wou ons graag ’n deeltjie van ons geluk met die publiek deel,” sê die groep oor die idee agter die video wat deur Neels Moir vervaardig is.

Klawer, wat hulle ook as ’n temalied beskou, gaan oor die soeke na geluk – wat simbolies verteenwoordig word deur die vier-blaar klawer. “Dit is ’n lekker Country-popsnit wat jou voete sal laat jeuk om te dans en jou sal uitnooi om saam te sing,” vertel die meisies.

Neels Moir was ook aan die stuur van die humoristiese musiekvideo, wat by Mountain Breeze-vakansieoord in Stellenbosch verfilm is. “Dit is ’n tong-in-die-kies-storie met ’n ou Texas/ honky-tonk gevoel. Twee vroulike bandiete oorrompel twee skurke in ’n boshotel. Dit is ’n lekker organiese video, met hoenders, perde, bos, en meer.”

Die derde liedjie, Saggies, gaan oor twee mense wat vir die res van hulle lewens wil saam wees. Oud en jonk sal by dié snit aanklank vind en gaan volgens hulle nog baie by troues gehoor word oor die volgende paar jaar: “Martinique het die liedjie oorspronklik vir ’n vriendin van ons se troue geskryf en dit was ook die openingslied van die dansbaan op hulle groot dag.  Ons het dit saam met die 1925 Band opgeneem en ons vyf stemme (twee sussies en drie broers) het mooi saam gewerk,” sê Inge.

Martinique meen dat die musiekvideo ’n rustige kuier- en saamsing-atmosfeer het. “Dit was David Gericke van 1925 Band se idee en is in Fred & Max restaurant opgeneem deur Pierre Rossouw van Dry Ink Films.” Meer as dit, wil die dames egter nog nie op hierdie stadium verklap nie.

Inge en Martinique is in die Paarl gebore en het aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer. Die twee susters sing al van kleins af en het gereeld op skool aan konserte, kompetisies en eisteddfods deelgeneem.

Hulle het eers regtig bekendheid verwerf toe hulle aan kykNET se Zing-kompetisie vir duette deelgeneem en onder die Top 20 geëindig het. Daarna het hulle besluit om ’n groep te vorm en sedertdien tree hulle nog altyd saam op.

“Ons het besluit om ons groep Klawer te noem, omdat die vierblaar-klawer ’n simbool van geluk is. Ons is gelukkig en geseënd om mekaar te hê en musiek is ons taal…,” sê hulle.

Martinique Latsky is ’n kunssinnige ma van drie en het van kleins af ’n passie vir musiek. Sy werk al vir die afgelope vyf jaar permanent in die musiekbedryf en het baie gegroei as sanger en liedjieskrywer. 

Dié talentvolle gesinsvrou – met haar ligte strelende stem – is nie net ’n goeie musikant nie, maar ook ’n kranige binnehuise ontwerper. Die musiekbedryf het haar geleer om hard te werk om jou drome waar te maak en sy geniet elke oomblik daarvan.

Inge Fanoudis beskryf haarself as ’n introvert wat hou van mense. Sy sing al van kleins af en spog met ’n unieke lae fluweelstem wat strelend is op die oor. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is hierdie ma van twee ook ’n fiksheidsinstrukteur. Sy bied ook sanglesse aan vir wie ookal haar dienste benodig.

Om uit te hou en nie op te gee nie, is iets wat die musiekbedryf haar die afgelope paar jaar geleer het. Sy sien uit na die volgende hoofstuk van haar lewe en musiekloopbaan.   

Die sangpaar het nog baie planne en drome. Hulle sal graag in die toekoms wil hê dat hulle musiek soveel as moontlik plaaslike en internasionale gehore moet bereik. DANS IN DIE REEN gaan nie net ’n gunsteling wees op al wat CD-rak of aanlyn-speellys is nie, maar gaan ook voortbou op die sukses wat Klawer reeds bereik het as ’n country-duo met musiek wat direk met die hart praat.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram

Webblad: www.klawermusiek.co.za