Cindy-Louise vier vrouwees met nuwe enkelsnit – FEMME FATALE

Cindy-Louise vier vrouwees met nuwe enkelsnit – FEMME FATALE

Daar is iets onweerstaanbaar omtrent ’n vrou met selfvertroue; iets wat sê dat jy haar nie moet onderskat nie, want sy is slim, sterk en beeldskoon. Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Cindy-Louise, se nuutste enkelsnit – FEMME FATALE – vier vrouwees op ’n humoristiese manier.

Wees nou maar eerlik, ons vroue weet dat ons in beheer is,” sê die sangeres. “Vroue is sterk, slim en talentvol. Ons is gebore leiers. Ons bewys dit elke dag… en ons doen dit in hoëhakskoene!”

Cindy-Louise wou graag ’n liedjie skryf wat vrouwees vier. Net soos wat die naam aandui, sê FEMME FATALE dat vroue in beheer is. Jy weet nooit wat ons voel of beplan nie, lag sy.

Die kragtige boodskap van die snit, word gekomplementeer deur ’n meesleurende wysie. Dit trek dadelik die aandag, is strelend op die oor en sal luisteraars laat glimlag. 

FEMME FATALE is deur die kunstenaar self geskryf en opgeneem deur Frank de Jong/Hal5 Studio. Sy het weereens saam met Clinton Nicholas Watts (hoof-vervaardiger) en Andre Remesses Scheepers (toonsetting en bykomende instrumente) gewerk om die perfekte eindresultaat te skep.

Buiten vir Cindy-Louise se unieke klank, kombineer die enkelsnit ook elemente van verskeie genres. In hierdie geval kommersiële pop en R&B, met ’n bietjie donker pop.

Net soos met haar vorige vrystellings (Make It Out Here Alive, The Mask)spog FEMME FATALE ook met ’n indrukwekkende musiekvideo. Dit is in Nederland verfilm deur Manda Productions, met Antonia Ackermans as regisseur.

“Om aan te sluit by die liedjie se bemagtigende boodskap, wou ek hê dat die video my seksualiteit en selfvertroue as vrou moes weerspieël. Ek wou my lyf wys en die luuksheid wat daarmee gepaard gaan om lief te wees vir wie jy is. Natuurlik sou geen ‘Femme Fatale’-storie kompleet wees sonder ’n bietjie opwinding nie…”  

Volgens die kunstenaar, is die musiekvideo die resultaat van almal wat betrokke was se kreatiewe insae. Sy vertel dat dit n voorreg om saam met ’n span te werk wat nie bang is om uiting te gee aan hulle verbeelding nie.

Die kunstenaar het die musiekbedryf amptelik in 2019 betree en het reeds groot opslae gemaak met die enkelsnitte wat sy reeds vrygestel het. Humanity, haar debuut-album, is ook onlangs uitgereik en is baie goed ontvang. Sy put inspirasie uit alles rondom haar en gebruik haar musiek om bewusmaking te skep oor sekere sosiale en emosionele kwessies.

Kyk die video hier: 

Alhoewel sy ver van die huis af is, is dit vir die musikant belangrik om haar musiek met haar landsgenote te deel. “Dit is my manier om in kontak te bly met my geboorteland, veral omdat ek nie huistoe kan kom om tyd saam met vriende en familie deur te bring nie. Op hierdie manier kan ek my passie vir musiek met hulle deel.”  

Met die vrystelling van FEMME FATALE, bewys hierdie veelsydige sanger en liedjieskrywer net weereens dat daar nog groot dinge vir haar wag in die toekoms!

Laai die enkelsnit hier af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter, YouTube

Website: http://cindy-louise.com/