fbpx
BREEKGOED Augusta Zietsman se sielvolle kortalbum

BREEKGOED Augusta Zietsman se sielvolle kortalbum

Die jong aktrise en talentvolle musikant Augusta Zietsman verruil vir eers die opgewekte klanke van die treffers waarmee sy verlede jaar gedebuteer het vir vier meer sielvolle snitte op ʼn splinternuwe kortalbum (EP) getiteld BREEKGOED.

BREEKGOED bevat vyf snitte getiteld ONDERKANT DIE BERG, PROBEER, ONTYDIG, HORISON en SOET SMAG.

Augusta beskryf BREEKGOED as ʼn album wat in essensie die storie vertel van die verbrokkeling van ʼn verhouding en die illusie van verlief wees.

Dit is vir die kunstenaar belangrik om haar eie stempel op haar musiek te sit. “As aktrise het ʼn mens gewoonlik nie baie sê oor die kreatiewe rigting van ’n projek nie en dus wou ek met die musiek ’n kreatiewe stem hê,” sê Augusta.

“Ek het die meeste van die liedjies geskryf in my vroeë twintigs – ʼn tyd van groot ontnugtering,” sê Augusta, wat al vier die liedjies self geskryf het. Wesley West het die album vervaardig.

“Musiek laat my toe om te sê hoe ek regtig voel oor goed. As ek voor die klavier sit en skryf kom al die opgehoopte gedagtes na vore en so doende kan ek daarmee vrede maak en aangaan.”

Die sangeres en liedjieskrywer, wat voorheen liedjies soos BALJAAR, LEKKER HOU en GOEIE NUUS uitgereik het, sê sy neem nie die gehoor in ag gedurende die kreatiewe proses nie maar hoop tog luisteraars vind aanklank by die boodskap van die musiek.

“Ek probeer om nooit die gehoor in ag te neem terwyl ek besig is om musiek te skryf nie. Nie omdat ek glad nie omgee nie, maar dis belangrik vir my dat ek daarvan hou en dit wil luister. ʼn Mens kan vinnig vasgevang raak in jou kuns as jy te veel omgee wat ander mense daarvan dink.”

BREEKGOED is ʼn versameling van elektroniese en akoestiese klanke. SOET SMAG is geskryf in repliek tot die Afrikaanse gedig, “Ballade van die Nagtelike Ure” deur N.P. van Wyk Louw en vang die gebeure vas soos vanuit die vroueperspektief onthou.

Die aktrise en haar verloofde, Regardt Visser, pak saam die produksie van die musiekvideo’s aan. “Die video’s is ‘n ruimte waar ʼn mens regtig kan speel. Die anything goes model is heerlik en leen homself tot kreatiewe eksperimente. Regardt is die visuele brein agter alles wat ek aanpak.”

BREEKGOED is reeds uitgereik en is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Meer oor die kunstenaar:
Augusta Zietsman (28) is in Bloemfontein gebore en het haar kinderlewe op ’n plaas in die Vrystaat en in die Kalahari-dorp, Kathu, deurgebring.

Sy het in ‘n musikale huis groot geword. Haar ma het haar kleintyd reeds klavier speel en haar boeties het altyd in orkeste opgetree.

Sy het haar eerste liedjie op die ouderdom van 10 geskryf en dit by die talentkompetisie uitgevoer. Daar het haar liefde vir liedjieskryf begin.

Sy het haar hoërskoolloopbaan aan Eunice Girls High School voltooi en ʼn graad in BA Drama Teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Ná haar studies het sy Johannesburg toe getrek, waar sy haar loopbaan as skrywer, aktrise en musikant afgeskop het.

Augusta is ʼn nuweling tot die vermaakbedryf en het eers as aktrise naam gemaak in die TV-rol van
Suna in Die dinge van ‘n kind, en daarna het sy in die Netflix-reeks Blood and Water verskyn.

Haar eerste enkelsnit, “Baljaar”, is in 2022 uitgereik en sy het in 2023 haar eerste professionele lewendige optrede saam met die musiekgroepe Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf gedoen.

Sy verskyn ook vanjaar in drie vollengte flieks waarvan die name nog nie bekend is nie. Augusta tel musikante soos Koos du Plessis, Billy Holiday en Bob Dylan as haar inspirasies en sê op eie bodem sal sy graag saam met die musiekduo Van Pletzen wil werk.

BREEKGOED is haar eerste kortalbum.

SOSIALE MEDIA
Facebook, Instagram, TikTok