fbpx
Ruan Josh – LIGTE AF

Ruan Josh – LIGTE AF

Wat moet jy doen as die LIGTE AFgaan en jy kan nie kuier nie? Jy maak ʼn vuur, nooi almal wat jy ken en hou in elk geval heelnag partytjie tot die bure kla!

Met Ruan Josh se splinternuwe enkelsnit, LIGTE AF, herinner hy Afrikaanse luisteraars dat ʼn mens steeds kan pret hê, ten spyte van die harde werklikheid van beurtkrag in Suid-Afrika. Ná ‘n droogte van twee jaar gaan Ruan nou die voete laat jeuk en dansvloere regoor die land vol maak met dié enkelsnit.

“Ek sal daarvan hou as mense die persoon naaste aan hulle wil gryp en die heupe bietjie swaai met dié liedjie – en natuurlik uit volle bors saamsing,” vertel Ruan opgewonde.

LIGTE AF is juis geskryf om voete na die dansvloer te lok en het ʼn tipiese Euro-pop klank. Dié liedjie saam deur Ruan en sy musikale suster, Franja du Plessis, gepen en hy het vertel dat die inspirasie vir die liedjie geput was uit die daaglikse frustrasie van ontydige beurtkrag.

“Ek is maar altyd ʼn ewige optimis en probeer die beste van elke saak maak – so dan dryf ons maar die spot met ons frustrasies deur middel van ons musiek,” sê Ruan.

“Ons almal sit in dieselfde bootjie en ek het al uit ervaring geleer dat mense na ontvlugting soek. Ek glo die liedjie gaan die bitterheid wat mense ervaar met beurtkrag, so ʼn bietjie suiker gee.”

Die musiekvideo vir LIGTE AF het ‘n storielyn waarin elke kyker homself kan inleef en beeld die voorreg uit om in dié tye wel toegang tot ‘n kragopwekker van ‘n aard te hê.

“Ons het hande geneem met Zuider Energy wat hul Tesla Powerwall in die musiekvideo ten toon stel. Te danke aan herlaaibare litium-ioon battery wat energie stoor, kan die partytjie in die

musiekvideo voortgaan en is dit dan ook die enigste huis in die straat waar daar ligte brand,” het Ruan vertel.

Ruan is self aan die stuur van die kreatiewe en uitvoerende aspekte van sy musiekvideo’s. Eric Graham van ETG Creative behartig die verfilming en vervaardiging.

ʼn Vollengte album, waaraan Ruan al vir vyf jaar lank werk, sien ook binnekort die lig en LIGTE AF is die eerste enkelsnit vanf dié album. Hy toer ook soveel as moontlik die land plat en is gaande oor elke oomblik op die verhoog.

Hy tel Krone 5 in 2018 as een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan tot dusver. Die uitreiking van die enkelsnit “Provider” staan ook vir hom uit. Dié vertolking deur Ruan se musiekvideo is reeds 1.4 miljoen kere op YouTube gekyk.

“Die emosies en trane wat loop elke keer as ek daai liedjie sing by konserte sal my waarskynlik roer tot ek hom die laaste keer sing,” sê hy oor dié liedjie.

Maar nou is hy reg om weer lig te skyn in aanhangers se lewe met LIGTE AF. Dié enkelsnit sal van 30 Junie 2023 op alle musiekstromingsdienste beskikbaar wees en die musiekvideo word op 14 Julie 2023 vrygestel.

Meer oor die kunstenaar:

Ruan Josh is al 14 jaar voltyds in die musiekbedryf doenig. Hy is sedert sy kleintyd versot op musiek en het in ʼn musikale huis grootgeword waar ʼn liefde vir country en Afrikaanse musiek by hom gekweek is.

Ruan geniet dit om in die natuur te wees en kan vir dae aaneen op sy eie klaar kom. Hy skerts en sê sy eie geselskap is sy gunsteling-geselskap. 

Hy put inspirasie uit verskeie ander kunstenaars, maar sê hy sal nog graag saam met die groepe Posduif of Rubber Duc wil werk. 

Hy sal ook altyd saam met sy ma en suster, die sangeresse en liedjieskrywers Juanita en Franja du Plessis, wil optree.

As hy nie meer in die musiekbedryf werksaam is nie, sal hy homself voltyds op boerdery toespits.

Ruan is tans besig met ʼn nuwe album en ʼn groot Afrikaanse projek waaroor hy nog nie te veel kan verklap nie. Hy is ook bestuurder van sy platemaatskappy se inhoud.

Die album “Kaalvoetkind” saam met Juanita en Franja du Plessis het platinumstatus bereik met ʼn verkope van meer as 20 000 on-demand streams en aflaaie en fisiese verkope gesamentlik.

“Just An Illusion”, ook saam met Juanita en Franja du Plessis, het multiplatinumstatus bereik met meer as 100 000 eenhede on-demand streams, aflaaie en fisiese verkope gesamentlik.

Ruan se debuutalbum “Eggo” het goue status bereik met ʼn verkope van 15 000 eenhede.

“Provider” vaar steeds baie goed en is al meer as 2,3 miljoen keer gestroom oor alle platforms.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram