fbpx
Miraculous: Tales of Ladybug & Cat Noir

Miraculous: Tales of Ladybug & Cat Noir

Toe Miraculous: Tales of Ladybug & Cat Noir, ’n geanimeerde Franse kinderprogram, in 2015 bekendgestel is, het dit die verbeelding van aanhangers regoor die wêreld aangegryp.

Vyf seisoene later, is dié dinamiese tienerduo uiteindelik op pad na die grootskerm in MIRACULOUS: LADYBUG & CAT NOIR, THE MOVIE, die langverwagte rolprent wat gebaseer is op die geliefde Miraculous-franchise.

Hierdie opwindende verhaal gaan oor die Marinette Dupain-Cheng en Adrien Agreste  (die seun van ’n bekende ontwerper) wat voorkom asof hulle doodnormale tieners, met doodnormale lewens, is – hulle gaan skool toe en hanteer die gewone tienerdrama wat met vriende, familie en grootword gepaard gaan. Maar wanneer ’n skurk hul geliefde stad, The City of Lights, bedreig, verander dié duo onderskeidelik in Ladybug en Cat Noir. Dit is dan hulle taak om hul spesiale superkragte in te span en saam te werk om Parys te red, terwyl die slegte Hawk Moth gewone mense in nare skurke verander. Net soos die reeks, ondersoek die fliek ook die slim storielyn van hulle geheime identiteite en die impak daarvan op hulle verhouding.

Die rolprent, wat beskryf kan word as ’n CG-geanimeerde musikale superheld-fliek en waarvan Jeremy Zag die regie behartig en saam met Bettina Lopez Mendoza aan die draaiboek geskryf het, fokus op vriendskap, spanwerk en superkragte terwyl Ladybug en Cat Noir saamwerk om die wêreld ’n veiliger plek te maak. Dit bied al die gesinsvriendelike pret waarvoor dié gewilde handelsnaam bekend is, maar op ’n veel groter skaal.

Omdat hy lankal reeds besef het dat die dinamiese karakters van die Miraculous-reeks geweldige potensiaal het om vir die grootskerm aangepas te word, het Zag ’n ervaring geskep wat nie net aanhangers van die oorspronklike program sal vermaak nie, maar wat ook ’n heeltemal nuwe generasie kykers sal lok.

Daarom sal die storielyn van die rolprent vir aanhangers van die oorspronklike Miraculous-televisiereeks – die program is beskikbaar op Disney – bekend voel, aangesien dit ooreenstem met elemente van die oorspronklike verhaal wat alreeds gedeel is. Dit maak van die fliek ook die perfekte aanknopingspunt vir diegene wat nog nie die reeks gekyk het nie.

Hy verduidelik: “Terwyl ons probeer het om nuwe kykers verlief te maak op die karakters en te laat voel wat die aanhangers nog altyd oor hulle gevoel het, wou ons hê almal, ou en nuwe aanhangers, moes meegesleur word deur die liefdesverhaal, die opwindende aksietonele en die liedjies en musiek.”

Buiten vir sy betrokkenheid as medeskrywer, regisseur en vervaardiger, het Zag ook die musiek gekomponeer en die liedjies vir die fliek saam geskryf. Vir hom is musiek ’n noodsaaklike element in die film en speel dit ’n belangrike rol om die emosies en intrige deurgaans oor te dra. “Met musiek kan jy almal se harte raak.”

Hy voeg by dat dit noodsaaklik was vir die film se kreatiewe span om karakters en temas te gebruik wat mense help om persoonlike twyfel te oorkom en hul volle potensiaal te bereik. “Vir my was dit baie belangrik om karakters te ontwikkel wat mense help om hul ware self te ontdek. Kykers moet verstaan dat die ware held van die fliek die persoon agter die masker is. Dit is die groot boodskap van die fliek – om te leer hoe belangrik dit is om in jouself te glo en te verstaan dat jy nie ’n superheld of ’n masker nodig het om jou drome te bereik of jou vrese te oorkom nie.”

Medeskrywer Mendoza glo gehore gaan die fliek baie geniet. “Ek dink ons gee hulle ’n bietjie van alles. Die fliek het aksiebelaaide tonele, pragtige musiek wat opbouend en pret is, en natuurlik ’n liefdesverhaal.” Sy hoop ook dat mense wat eensaam voel of meer selfvertroue nodig het, inspirasie uit die prent sal put. “Die storie is dalk geteiken op jong kykers, maar ek voel dat gehore van alle ouderdomme iets in die Miraculous-wêreld sal vind wat by hulle sal aanklank vind en hulle sal inspireer.”

MIRACULOUS: LADYBUG & CAT NOIR, THE MOVIE is prettig, opwindend en vol verrassings en pas mooi in by die groeiende subgenre van superhelde, wat steeds die wêreld oorrompel. Bestaande aanhangers en nuwe kykers sal dit ewe veel geniet!

Die rolprent word versprei deur Filmfinity Pty (Ltd.) en is vanaf 28 Julie 2023 in plaaslike fliekteaters te sien. 

SOSIALE MEDIA

FILMFINITY

Facebook, Twitter, Instagram