fbpx
Christopher Branders – SONNEBLOM

Christopher Branders – SONNEBLOM

SONNEBLOM, ’n liedjie wat Christopher Branders in 2020 op sosiale media gedeel het as Nes Jy Is, het in 2021 amptelik ’n nuwe baadjie aangetrek toe dit in Jattie de Beer van Artistry Productions se ateljee opgeneem is onder ’n nuwe naam. 

Dié snit is pas aan radiostasies vrygestel en besig om die trefferleer te klim op treffersparades regoor die land.

SONNEBLOM is geskep om jou te laat besef dat jy werklik goed genoeg is, ongeag van wat die wêreld mag dink. Dat jy so kosbaar is dat die berge en oseaan nog altyd wou weet wat jou naam is,” verklap hy oor dié aangrypende akoestiese-pop-lied uit sy eie pen.  “Dit het my nog altyd hartseer gemaak om te sien hoe mense afgekraak en uitgeskuif word. Ek het die liedjie geskryf om uiting te gee aan die boodskap wat op my hart gedruk het en omdat ek graag wil deel vorm van ’n kultuur wat ander opbou en bemoedig.”

Volgens hom behoort sy debuut as solo-kunstenaar aanklank te vind by luisteraars van alle ouderdomme. “Mense gaan van die liedjie hou omdat dit oor hulle gaan en op almal van toepassing is. Die wysie is opgewek en lekker om op te dans en na te luister,” sê hy.

Hierdie lewenslustige musikant is in Pretoria gebore en getoë en is al van jongs af mal oor musiek. Regdeur sy skoolloopbaan het hy in die koor gesing en op universiteit was hy deel van die Tuks Camerata wat hom aangespoor het om sy musiekdroom verder te neem.

Hy het in 2017 die musiekbedryf betree toe hy en twee van sy vriende die groep, Van Boas, begin het. Sedertdien het hulle baie saam musiek gemaak en selfs die geleentheid gehad om saam met Koos van der Merwe op te tree.

Net voor grendeltyd het hulle ’n kortspeelplaat uitgereik, genaamd ONS IS OKAY. Alhoewel die groep nie meer aktief is nie, was dit die begin van sy solo-loopbaan.

Christopher het groot waardering vir plaaslike kunstenaars soos Chris Chameleon, Joshua na die Reën, Elvis Blue, Kaleidoskoop en Matthew Mole en sal nog graag eendag saam met hulle wou werk. 

Hy vind ook aanklank by die musiek van oorsese sterre soos Michael Bublé, Ed Sheeran, Coldplay, John Mayer, The Lumineers, Mighty Oaks en Jeremy Loops.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, werk hy ook as prokureur en deeltydse radio-omroeper. Mense en die natuur inspireer hom om liedjies te skryf en hy meen dat hy graag ’n onderwyser of akteur sou wou wees as hy nie kon sing nie. 

Die musiekbedryf het vir Christopher geleer om nie op te gee nie en hard te werk vir dit wat hy wil bereik.

Hy wil graag sy stories met mense deel en met SONNEBLOM kry hy dit nie net reg om met musiekharte te praat nie, maar ook luisteraars te inspireer wat deur moeilike tye worstel.

VOLG HOM OP:

Facebook, YouTube, SoundCloud