fbpx
Corrazerwas – boer, liedjieskrywer, troebadoer

Corrazerwas – boer, liedjieskrywer, troebadoer

Corrazerwas is ’n liedjieskrywer, sanger en boer van die Waterbergstreek in Limpopo. Cordier se unieke verhoognaam word uitgespreek as Corra-zerwas en kom vanaf sy Laerskooldae toe sy vriende hom Corra begin noem het. Een vriend het die “zervas” bygelas en dit het bly plak.

Die onafhanklike kunstenaar se klank kan beskryf word as adult contemporary/easy listening. Sy musiek word beïnvloed deur ’n groot verskeidenheid genres, maar die middelpunt is sy lirieke en die storie wat hy wil vertel. “Die musiek word maar aangepas om die boodskap die beste oor te dra,” vertel hy. 

Dit was Cordier se passie vir musiek en liedjies skryf wat hom in die bedryf laat opeindig het. Hy het begin as ’n dromspeler en het in 2009 eers regtig begin sing. “Skryf was nog altyd daar en die behoefte om iets te wil sê, het my oortuig om te begin sing.” Sy heel eerste optredes as sanger-liedjieskrywer was in 2010 by ’n rehabilitasiesentrum waar hy weekliks vir die inwoners gaan speel het.

Cordier se talent strek egter verder as net skryf en sing. Hy is ’n bekwame kitaarspeler, maar kan ook dromme, mondfluitjie en baskitaar speel. Hy eksperimenteer gereeld met “enigiets wat ’n klank maak.”

Cordier vertel dat musiek en die ongerepte natuur nog altyd twee baie belangrike aspekte van sy lewe was. Niks laat hom meer lewendig en nederig voel as om musiek te kan maak en in die natuur te wees nie. “As ek nie musiek maak nie, is ek of in die bos, op n sportveld, agter n braaier by vriende, of besig om te reis. My vriende, familie en gawes is my rykdom en ek is n groot voorstander van in die oomblik lewe. Daar is natuurlik ook altyd tyd vir n grappie,” skerts hy.

Sy musiek is vir hom ’n saak van erns. “Alles het nog altyd vir my oor die lied en musiek gegaan, en ek is van plan om dit so te hou,” vertel Cordier. Sy dae is ’n geskarrel tussen boer, gaste onthaal, jag, opnames vir homself en ander, asook optredes en musieklesse. “As ek op my reistog n geldjie daarvoor kan kry, is dit soveel beter en stel my in staat om geboorte aan soveel meer te gee.

Die beste raad wat Cordier vir ander kunstenaar het, is: “Wees jouself en moet nie die waarheid prys gee vir finansiële gewin of roem nie. Maak musiek waarvan en hoe jy daarvan hou, nie anders om nie. Moet nie bang wees om jouself bloot te stel nie. Wees kwesbaar en sorg dat liefde, vrede en vreugde altyd die dryfkrag agter jou musiek is – dan kan jy maar vals sing. Spandeer tyd en verfyn jou vaardigheid.”

Cordier se liefde vir die ateljee en die hele proses om van niks iets te maak, word bewys deur die albums wat hy al vrygestel het. BOSVELD BLUES IN 2015 was sy eerste vollengte-album wat Cordier self vervaardig, gespeel, opgeneem en gemeng het in sy ateljee op die plaas. Sy tweede vollengte-album, TROEBADOER, het in 2017 gevolg. Albei die albums, asook DRYFHOUT, sy nuwe enkelsnit, is beskikbaar op alle aanlynplatforms: Linktree, Amplify

DRYFHOUT (Nuutste enkelsnit) – DRYFHOUT handel grotendeels oor ’n verlange na die eenvoud van kindwees, wat in die geval van die liedjie deur die vasteland verteenwoordig word. Die diep blou see verteenwoordig weer die magdom van kennis, idees en opinies waarin ons as volwassenes so maklik meegesleur word en verdrink. Die oorkoepelende tema is dus ’n hunkering na sorgelose dae van net doodeenvoudig, onskuldig kind wees.

Cordier was nie van plan om ’n musiekvideo vir DRYFHOUT te maak nie. Maar hy het onlangs afgekom op ou beeldmateriaal van sy kinderdae wat hy by sy pa gekry het. Toe hy daarna kyk, het hy besef dat dit goed sal pas by die tema van die lied. Hy het toe gratis videosagteware afgelaai, homself vinnig die basiese dinge geleer, en so heel vinnig die video aanmekaargeslaan. Die musiekvideo is dus eintlik ’n gevolg van al die vrye tyd wat die inperking hom gebied het.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook

E-posadres: [email protected]