fbpx
Victor Bravo, vier hul kultuur met SUIDERKRUIS.

Victor Bravo, vier hul kultuur met SUIDERKRUIS.

“Daar is baie Suid-Afrikaners wat groener weivelde gaan soek in ’n ander land. Ek was self een in my vroeë twintigs. Maar ons land en sy kultuur is deel van ons DNS en as jy eerlik is, sal jy erken dat jy dit mis,” verduidelik Weco van Basten oor die betekenis agter hulle derde enkelsnit wat pas vrygestel is.

SUIDERKRUIS is ’n kontemporêre popsnit vanuit die arsenaal van dié duo se eie oorspronklike musiek. “SUIDERKRUIS is anders as die musiek wat ons gewoonlik doen. Dit het ’n lekker ritme, wat mense na die dansvloer sal lok, sonder om die dieper betekenis prys te gee,” voeg Jopie by. Dit is vervaardig deur Renier Henning Music en sluit die werk in van die bekende dromspeler, Bruce Wallace, en baskitaarspeler, Janes Blomerus.

“Dit maak nie saak waar in die wêreld jy jouself bevind nie. Jy bly ’n Suid-Afrikaner in murg en been. Rugby, braaivleis, die plaas en ons taal vloei deur jou are, en ’n deel van jou gaan altyd daarna verlang,” sê Weco, wat verklap dat Erfenisdag en die groep se optrede by Aardklop in 2019 die inspirasie agter die liedjie was.

’n Musiekvideo van dié lekkerluisterliedjie is ook binnekort beskikbaar. Dit is in die Johan van Rensburg-teater by Hoërskool Drie Riviere verfilm en maak gebruik van baie slim beligting om nie net ’n treffende atmosfeer te skep nie, maar ook op die Suiderkruis in die sterrestelsel te sinspeel.

Laai die enkelsnit hier af: 
Apple Music
Spotify 
Deezer

Hulle nuutste vrystelling volg in die suksesvolle voetspore van hulle vorige enkelsnit, SKEMER, wat in 2019 uitgereik is en vir negentien agtereenvolgende weke die nommer een posisie op Springbok Internetradio se Top 20 bekleë het. Dit is ook aangewys as dié platform se Liedjie van die Jaar. Dit kan tans steeds op verskeie radiostasies gehoor word.

BREAKAWAY LINE, die duo se debuutenkelsnit, is in November 2018 uitgereik en die reaksie was oorweldigend goed. Nie net het dit speeltyd op ses groot radiostasies regoor die land nie gekry nie, maar dit was ook vir nege weke lank nommer een op die Springbok Top 20.

Die musiekvideo is deur Dehan Janse van Rensburg verfilm by Mediclinic Emfuleni en Duck Point Venue in die Vaaldriehoek. Buiten vir die mooi storie (die liedjie is vir Weco se vrou geskryf toe hy weg van die huis af moes werk) en pragtige agtergrond in elke toneel, is die video besonders spesiaal.

Dit was geskiet as deel van een van Troukoors-tydskrif se amptelike gestileerde fotosessie vir die September 2019-uitgawe. Jopie en sy meisie, Rhoda Hartzer, is ook te sien in die hoofrolle van dié verhaal wat steeds op kykNET NOU! speeltyd kry.

’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek, het gelei tot die ontstaan van Victor Bravo, wat vanaf 2018 saam optree by kuierplekke in die Vaaldriehoek en omliggende areas.  Victor Bravo bestaan uit Weco van Basten, hoofsanger en liedjieskrywer en Jopie Pienaar die hoofkitaarspeler.

Die groep se naam geskep is uit die eerste letters van hulle familievan – van Basten. Hulle het ’n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke moeiteloos laat saamsmelt om ’n vars, nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind. “Die projek, Victor Bravo, is so drie jaar terug gebore as ’n konsep in my kop. Die idee was om ’n platform te skep uitsluitlik vir musiek, sonder die ander sideshows,” verduidelik Weco.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Twitter
Instagram
SoundCloud

BESPREKINGS:
Annelien van Basten
Sel: 082 863 6817
E-pos: [email protected]

Lees meer:
Victor Bravo stel tweede enkelsnit vry voor Aardklop.
Victro Bravo, oor.