Victor Bravo stel tweede enkelsnit vry voor Aardklop.

Victor Bravo stel tweede enkelsnit vry voor Aardklop.

SKEMER gaan oor daardie rou tydperk, net nadat jy iemand verloor het, tussenin wanneer jy nog vasklou aan die skadu’s van herinneringe voordat dit finaal in die donker verdwyn,” sê hoofsanger en liedjieskrywer, Weco van Basten, oor die betekenis agter Victor Bravo se tweede enkelsnit wat op 20 September 2019 eksklusief op Springbok Internet Radio vrygestel is. 

Hierdie emosiebelaaide, alternatiewe kontemporêre snit, vervaardig deur Renier Henning Music, is oorspronklik geskryf as die temalied van ’n filmdraaiboek waaraan Weco besig is om te werk.

Alhoewel dié projek nog ver van klaar af is, het die duo gevoel dat die liedjie sterk genoeg is om op sy eie te staan, omdat dit reeds ’n groot gunsteling by hulle lewendige konserte is. Die ateljee-opname sluit ook die werk van die talentvolle baskitaarspeler, Janes Blomerus, en die bekende dromspeler, Bruce Wallace, in.

“Dit is vir ons belangrik om musiek te maak met dieper betekenis, wat aanklank vind by diegene wat hou van lirieke wat hulle laat dink oor die lewe, en SKEMER pas perfek by hierdie doelwit in,” sê hoofkitaarspeler, Jopie Pienaar.

SKEMER maak ook deel uit van die groep se eerste onafhanklike kortspeelplaat (EP), wat ’n mengsel van ses oorspronklike snitte – die twee radiogeredigeerde weergawes en vier eie verwerkings vervaardig deur Real Sounds en gemeng deur Pot Musiek Produksie (Hoe Lyk Vir AltydSuiderkruis, Vat My Saam en Thanks A Lot) – wat vir die eerste keer by Aardklop 2019 beskikbaar gaan wees. 

Victor Bravo sal op die volgende datums op die Ontprop-verhoog wees: 24 September 2019: 20:00 tot 21:00
26 September 2019: 18:00 tot 19:00
27 September 2019: 11:00 tot 12:00

Breakway Line, die groep Victor Bravo se debuutenkelsnit (ook deur Renier Henning Music), is in November 2018 uitgereik. Die enkelsnit het die Nommer 1-posisie op Springbok Internet Radio se Top 20 vir twaalf agtereenvolgende weke bekleë en het vir twee-en-dertig weke onder die top 10 gebly.

’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek het gelei tot die ontstaan van dié akoestiese duo, wat vanaf 2018 saam optree by kuierplekke in Gauteng en omliggende areas.

Die groep, wat bestaan uit Weco van Basten en Jopie Pienaar, het ’n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke moeiteloos laat saamsmelt om ’n vars en nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind. 

“Die projek, Victor Bravo, is so twee jaar terug gebore as ’n konsep in my kop. Die idee was om ’n platform te skep uitsluitlik vir musiek, sonder die ander sideshows,” verduidelik Weco.

In die kort tydjie wat hulle amptelik saam musiek maak, het die musiekpaar (wat ook familie is) reeds verskeie hoogtepunte beleef. “Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” verklap Jopie oor wat gehore van hulle konserte kan verwag.

Victor Bravo wil hê dat hulle musiek moet wees wat die luisteraar ook al nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.

Wat begin het as ’n Nuwejaarsvoorneme om musiek te maak ter wille van die passie en nalatenskap daarvan, het uitgedraai in ’n kitssuksesverhaal wat die groeplede se wildste drome oortref het.

SKEMER kan afgelaai op Spotify en ander aanlynplatforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram, SoundCloud
Webblad: https://victorbravomusic.wixsite.com/mysite
Hutsmerke: #VictorBravoLive #Skemer

Leave a Reply