fbpx
Daniah se lied deur leeus geïnspireer – GOLD

Daniah se lied deur leeus geïnspireer – GOLD

Daniah de Villiers werk al vir ses jaar in die vermaakbedryf en is veral bekend as Trudie in Binnelanders, aanbieder van die kykNET-reeks, Dierepraters, en vir haar uitstaande vertolking in die bekroonde rolprente, Mia and the White Lion en Nul is Nie Niks Nie.

Nou is sy terug in die kollig om plaaslike harte op ’n nuwe vlak te verower met haar debuut-enkelsnit, GOLD, wat pas vrygestel is.

Volgens dié agtienjarige Kapenaar gaan hierdie popsnit, uit haar eie pen, daaroor om te besef wat die ware goud in jou lewe is.

“Ek het die liedjie verlede jaar begin skryf vir die leeus saam met wie ek vir drie jaar grootgeword het,” vertel sy. “Dit het my laat besef dat ’n mens jou eie geluk bepaal en dat ek moet dankbaar wees vir die ware goud in my lewe, soos die leeus.”

Hierdie inspirerende snit is deur StoneBear & Mayor vervaardig en sy glo dat luisteraars van alle ouderdomme daarby sal aanklank vind. “Dit is ’n bietjie anders, maar ek glo dat dit ’n hartroerende liedjie is wat met mense sal praat en uitnooi om dit hulle eie te maak.”

’n Musiekvideo van hierdie unieke treffer is ook nou beskikbaar. Dit is deur Josh Farrer en Martin McCarthy vervaardig en op verskeie mooi plekke in en rondom Gordonsbaai verfilm. Die idee was om die boodskap van die liedjie – om te besef wat regtig belangrik is – vas te vang.

“Ek het gedink ek weet wat die ware goud in my lewe is en daai tyd was dit die leeus, toe besluit ons om uit te beeld dat die ware goud eintlik in jouself lê en nie in materialiste dinge of verhoudings nie,” deel die kunstenaar.

Vir Daniah, is musiek soos asemhaal. Sy kom uit ’n baie musikale familie en het van kleins af aan sangkompetisies deelgeneem en saam met haar sussie duette gesing.

Alhoewel sy reeds toneelspeel vandat sy twaalf is nadat sy as junior-wêreldkampioen aangewys is vir toneelspel tydens ’n kompetisie en Hollywood, het haar passie vir sing brandend gebly en het sy oor die jare ook ’n klomp liedjies geskryf waaraan sy nog besig is om te skaaf.

Daniah put inspirasie uit ander musiek en die dinge wat rondom haar gebeur. Sy het groot bewondering vir kunstenaars soos Sia, Dua Lipa en Ben Platt en sal graag eendag saam met Jeremy Loops en Neon Dreams wil werk.

Oor die jare, het sy heelwat loopbaanhoogtepunte behaal en hoof- en ondersteunende rolle gespeel, en sonder haar rol as Mia in Mia and the White Lion uit as haar gunsteling. As sy nie kon sing of toneelspeel nie, sou sy beslis ’n skrywer of draaiboekskrywer wou wees met haar eie besigheid.

Tans werk sy aan ’n nuwe reeks waarin sy ’n psigopaat speel en verklap die aktrise dat sy in verskeie reekse en rolprente te sien is in die komende jaar. Verder werk sy daaraan om haar musiekloopbaan te groei en ’n indruk op luisteraars te maak.

“Ek wil mense se harte aanraak en hê dat hulle moet kan vereenselwig met my musiek op watter vlak ook al,” sluit sy af.

GOLD is nou beskikbaar en kan hier afgelaai word: https://distrokid.com/hyperfollow/daniah/gold-2

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
, Instagram