fbpx
Daniel Wesley sing: BRIEFIE VIR MY MA

Daniel Wesley sing: BRIEFIE VIR MY MA

Die bekroonde country-sanger, Daniel Wesley, het verlede jaar sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf gemaak met treffers soos HUIS IS WAAR MY HART IS en LEEF. Hy stem saam met dat “ma’s as gevolg van hulle gesinne hul plooie verdien”. En omdat sy ma so spesiale rol in sy lewe speel, “wil hy haar aan die hele wêreld bekendstel.”

En dit is presies wat Daniel nou met sy nuutste enkelsnit, BRIEFIE VIR MY MA, doen. Sy ma is ’n aktrise in die gelyknamige musiekvideo van die snit wat in Desember uitgereik gaan word. “Sy was eers baie skepties, maar het later maar ingestem om haar verskyning in die musiekvideo te maak. Sy het nog nie die liedjie gehoor nie, dus gaan dit ook vir haar ’n groot verrassing wees.“

Daniel het in die Vrystaat grootgeword en die ’durf en dapper bloed van ’n opregte Vrystater vloei ook deur haar are,‘ glo hy vas. As dit nie vir sy ma was nie, sou hy ook nie die Amerikaners se nukke en grille oorleef het nie. Hy ook nie vas gestaan het in die goeie waardes wat sy ma hom geleer het nie.

Daniel was vir ’n ruk in Nashville, Texas in Amerika waar hy vir homself naam as country-sanger gemaak het. Hy het ook dáár die befaamde liriekskrywer, die Duitser Barbo Schönberger ontmoet saam met wie hy ook musikale kragte saamgesnoer het om ’n volwaardig vollengte album op te neem.

James Breedwell, ’n liedjieskrywer wat al onder andere vir die Amerikaanse Idols Jeffrey Li en Kechi Okwuchi liedjies geskryf het, het vir Daniel in Nashville hoor optree en het skoon liries oor sy stem geraak.

“Ek gaan volgende jaar definitief weer ’n besoek aan Nashville en Texas bring. Ek het goeie kontakte en vriende dáár gemaak. Ek dink ’n klein stukkie van my hart het in die wêreld van country agtergebly.”

Daniel is ’n country-rock sanger en met sy vorige enkelsnitte het hy bewys dat country ook in die moderne idioom gesing en geniet kan word. “Country-musiek vertel stories en dit is presies ook wat Briefie vir my ma is; ’n storie. Ek wou al lankal ’n liedjie skryf wat aan my ma opgedra is en ek het die afgelope ruk idees, oulike gesegdes en idiome neergeskryf.”

Die eindproduk is ’n lieflike ode aan ’n ma wat spreek tot elke kind wat die liefde van ’n ma ervaar het. “Die boodskap wat die liedjie moet oordra is om dankie te sê vir die liefde, opvoeding en die goeie Ma wat sy vir my was, en steeds is.“

BRIEFIE VIR MY MA is ook ’n baie persoonlike snit waarin sy hart en siel met sy ma gedeel word. Hy deel sy suksesse en mislukkings met haar en sluit op ’n hoogtepunt af: … “my liedjies speel op die radio en ek dink dat die mense daarvan hou…”

Hy beskryf sy ma as ’n ystervrou, maar met ’n hart so groot soos die hemel self. “Ek dink enige ma is vir haar seun spesiaal, Sy loer altyd by my in, is net daar en gee net verskriklik baie om.”

Dit was egter eers in 2019, tydens sy jaar in Nashville, wat hy sy musiektalent tot eksieperfeksie geslyp het. Hy het dié jaar deur die land getoer en het al vinnig ’n baie groot ondersteuningsbasis opgebou. Sy snitte word gereeld op nasionale radiostasies gespeel en boer ook gereeld op die treffersparade.

Daniel se gevoelvolle stem is ’n welkome toevoeging tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en hy beoog om volgende jaar nog vyf spiksplinternuwe Afrikaanse snitte uit te reik. BRIEFIE VIR MY MA is deur Darryl de Lange opgeneem en vervaardig.

SOSIALE MEDIA

Facebook