Deon Dee sing eerlike liedjie oor die LEWE

Deon Dee sing eerlike liedjie oor die LEWE

Deon Dee se splinternuwe enkelsnit LEWE is ‘n rou en eerlike liedjie oor die mag wat jy het om jou eie lewe te verbeter, ten spyte van hoe moeilik dit kan wees.

Die liedjie gaan oor om jou lewe te verander, jouself te verbeter en nooit moed op te gee nie. Die boodskap van die liedjie benadruk ook dat elke mens moet besef dat hy waardevol is.

Deon Dee se splinternuwe enkelsnit LEWE is ‘n rou en eerlike liedjie oor die mag wat jy het om jou eie lewe te verbeter, ten spyte van hoe moeilik dit kan wees.

Deon Dee het die LEWE saam met die musikant Hunter Kennedy geskryf. Ruan Graaff het die liedjie vervaardig terwyl Peach van Pletzen die vermenging behartig het.

LEWE het ‘n opgewekte tempo met ‘n meesleurende melodie en betekenisvolle lirieke. Die inspirasie vir die lied se eerlike lirieke is geput uit Deon se eie ervaring dat die lewe soms moeilik en swaar kan wees.

Al het hy onlangs deur ‘n donker tyd in sy lewe gegaan, het hy deur professionele hulp geleer dat ‘n mens jou eie lewenspad kan verbeter deur voortdurend die beste weergawe van jouself te probeer wees.

“Fokus op die dinge waarvoor jy aanspreeklikheid kan aanvaar en hou daarby. Dit gaan nie net daaroor om oukei te wees nie, maar eerder om te probeer om beter te wees as gister,” sê Deon oor die boodskap van die liedjie.

LEWE is ‘n baie persoonlike snit wat geskryf is tydens vlak 5 van die inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie. Deon se meisie, die musikant Janie Bay, werk gereeld saam met Hunter. Janie het vir Hunter genader om ‘n liedjie saam met Deon te skryf en hy het dadelik ingestem.

“Ek is so dankbaar dat hy bereid was om hierdie liedjie saam met my te skryf. In my oë is hy die beste Afrikaanse liriekskrywer ooit. Aangesien dit vlak 5 van die inperking was kon ons nie saam in een vertrek skryf nie, so ons het via Whatsapp idees, lirieke en stemboodskappe uitgeruil en die liedjie só voltooi,” verduidelik Deon.

Die liedjie gaan oor om jou lewe te verander, jouself te verbeter en nooit moed op te gee nie. Die boodskap van die liedjie benadruk ook dat elke mens moet besef dat hy waardevol is.”

“Ek wil met die liedjie die luisteraars motiveer om te begin dink oor wie hulle is, wie hulle sê hulle is en wie hulle werklik wil wees.”

Die moderne klank van die liedjie verskil hemelsbreed van die Engelse enkelsnitte wat Deon in die verlede uitgereik het. Hy is al bykans sy hele lewe deel van die musiekbedryf, maar voel dat hy met LEWE vir die eerste keer sy eie stem vind en sy stempel op die Afrikaanse musiekbedryf afdruk.

“Ek is nogal altyd baie lief vir die hartseer liedjie op ‘n kunstenaar se album. Ek hou van hartseer stories en musiek, want dan voel ek nie alleen nie. Ek hoop mense ervaar die liedjie ook ‘n bietjie só. Ek hoop mense hoor die liedjie en besef dit is oukei om eerlik te wees oor hoe jy voel.”

Die musiekvideo is in Stellenbosch geskiet deur Damiane van Reenen. Wade Lambert het die fotografie behartig.

“Dit was ‘n spesiale projek vir almal wat daarby betrokke was. Ek hoop dat die publiek die video net soveel gaan geniet soos wat ons dit geniet het om dit te vervaardig,” sê Deon.

Oor die kunstenaar

Deon Dee is al bykans twee dekades deel van die musiekbedryf en het op die ouderdom van 10 begin musiek maak.

Sy pa is die eienaar van die bekende musiekvenue Die Sinkshack in Bronkhorstspruit, waar van die land se grootste kunstenaars en musiekgroepe gereeld optree.

Daar het Deon aand na aand na lewendige musiekuitvoerings gekyk en is sy droom om self deel van dié bedryf te wees gebore. Later was hy deel van die musiekgroep Monochord.

Een van die hoogtepunte van sy musiekloopbaan tot dusver was toe hy vir Jo Black en Roan Ash kitaar gespeel het voor ‘n gehoor van 8 000 mense in die Sun Arena in Menlyn, Pretoria.

Sy grootste internasionale musiek-inspirasie is die Engelse musikant Jack Garratt asook die musikante Damien Rice, Paulo Nutini, Ben Howard en Ed Sheeran.

In die plaaslike bedryf sal hy nog graag saam met kunstenaars soos Francois van Coke, Danie du Toit, Janie Bay, Faraway George, Werner Bekker, Ruan Jordaan, Refentse en Bouwer Bosch wil werk.

Volgens die sanger inspireer musiek hom om te sing en skryf. “Ek kyk na musikante en die moeilike lewens wat hulle soms lei as gevolg van die passie wat hulle het vir musiek en die gejaag na geluk. Dit inspireer my, want ek jaag altyd geluk na. Jaag dit. Vind dit. Verstaan dit en probeer dit behou. Dit inspireer my – mense wat najaag, vind, verstaan en behou.” Deon en Ruan Graaff bestuur saam die produksiemaatskappy Dee Graaff Productions.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram