fbpx
“Dis hoe jy die wêreld verander”, sing Lezahn

“Dis hoe jy die wêreld verander”, sing Lezahn

“Dis hoe jy die wêreld verander”, sing Lezahn. Na ‘n musiekdroogte van bykans twee jaar is die Centurion-sangeres Lezahn terug met ‘n splinternuwe enkelsnit Dis hoe jy die wêreld verander.

Lezahn Dis hoe jy die wêreld verander

“Ek is ‘n onafhanklike sanger – dus sal ek dit eerder ‘n finansiële droogte noem en nie ‘n musiekdroogte nie,” lag Lezahn oor haar “musikale afwesigheid.” 

Hoewel Lezahn eers twee jaar gelede met die album, Masker, gedebuteer het, is sy nie ‘n onbekende stem in die musiekbedryf nie.  Sy het reeds in 2013 ‘n paar enkelsnitte vrygestel wat goed deur plaaslike radiostasies ontvang is en het ook voorvertonings vir groot name soos Jakkie Louw gedoen.

Maar dit was eers met die uitreiking van haar enkelsnit, Jou foto, dat Afrikaanse musiekliefhebbers van haar stem, wat vergelyk kan word met ‘n plak donker Lindt-sjokolade, bewus geword het.  Dié liedjie, het op plaaslike radiostasies se trefferlyste geboer, en nadat ‘n musiekvideo van dié liedjie op kykNET gespeellys is, het sy ‘n huishoudelike naam geword.

Met Dis hoe jy die wêreld verander, wat deur die bekroonde liedjieskrywer Joshua Oosthuizen van Oriison Productions geskryf is, het Lezahn bewys dat haar stem die afgelope paar jaar net dieper en ryker geword het.

Sy het ook deur ‘n pynlike groeiproses gemorfeer tot ‘n sangeres wat luisteraars met haar musikale weerloosheid ontroer. Dit is ook waarom dié kontemporêre popliedjie, wat Oosthuizen spesiaal vir haar geskryf het, met Lezahn resoneer. 

Die liedjie gaan oor ‘n strewe na individualiteit, om ‘n lig vir ander te wees en om in moeilike tye te weet dat daar mense is wat omgee.

“Ek was soos ‘n papie wat geestelik en emosioneel moes groei om uiteindelik ‘n skoenlapper te word,” sê Lezahn. “Ek het my baie deur mense laat voorskryf. Ek het gesukkel om my eie unieke styl en individualiteit te vind,” verklap sy.

Dit is waarom sy die lirieke “…probeer jy ook inpas, om soos almal te lyk, koop jy dieselfde klere, al hou jy nie daarvan?” ook met soveel oorgawe kon vertolk.

Lezahn het nie tydens die grendeltyperk gesit en “toonnaels” verf nie; sy het gereeld impromptu Facebook-konserte gehou, geoefen “en minder probeer eet,” spot sy.

Lezahn glo dat sy met dié enkelsnit nuwe hoogtes in haar loopbaan gaan bereik. “Ek is baie opgewonde oor die liedjie en ek glo dat ek hiermee nuwe musikale hoogtes gaan bereik.”

Luisteraars wat van liriekgedrewe musiek hou, sal veral aanklank by Lezahn se volwasse stem en eiesoortige musiekale interpretasie vind.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Leer ken vir Lezahn