fbpx
EK SPEEL ONS LIEDJIE – Mariska se nuutste danstreffer

EK SPEEL ONS LIEDJIE – Mariska se nuutste danstreffer

Om verlief te wees, is ’n baie vrolike en opwindende tyd in ’n paartjie se verhouding. Dit is ’n fase waarin spesiale herinneringe gemaak word … en klein dingetjies – soos hulle gunstelingliedjie – deel word van hulle reis saam.

Die populêre sangeres, Mariska, se nuutste enkelsnit – uit die pen van Rudi Claase – gaan oor hierdie besonderse verbintenis wat twee mense altyd sal deel, ongeag van wat die toekoms inhou.

EK SPEEL ONS LIEDJIE is ’n volwasse kontemporêre snit, met ’n meesleurende dansritme, wat jou herinner aan ’n moderne verwerking van ’n goeie sokkietreffer uit die negentigs. Dié juweel vier nie net die euforiese gevoel van die liefde nie, maar sal paartjies se voete ook laat jeuk om ’n draai of twee op die dansvloer te maak. 

“Dit is ’n heerlike liefdesliedjie met ’n wysie wat in jou kop herhaal. Ons het mos maar almal ’n paar gunstelingtreffers wat ons aan iemand spesiaal laat dink. ’n Liedjie wat jou gedagtes terugneem na spesiale oomblikke met spesifieke mense. Dit is waaroor dié enkelsnit gaan. Soms wanneer ons iemand mis en baie verlang, dan ‘speel ons liedjie’,” verklap Mariska.

“EK SPEEL ONS LIEDJIE leer ons ook van ander maniere om lief te hê – nie net met woorde nie, maar ook met gedagtes deur middel van musiek. Musiek is ’n wonderlike kommunikasiemiddel tussen mense. Dit bring hulle nader aan mekaar, maak verlange stil, troos die wat hartseer is en maak hulle bly.”

Buiten vir die feit dat die snit reeds besig is om radiogolwe oor te neem, vorm dit ook deel van die kunstenaar se debuutalbum, Dankie, wat sy baie opgewonde is om dit met die land te deel. “Ek is baie positief oor hierdie liedjie, hoop dat die publiek dit baie sal geniet en dat dit hulle sal inspireer,” sê sy.

Mariska se album is die resultaat van ses jaar se harde werk en bevat twaalf oorspronklike, kontemporêre verwerkings, wat oor die verskillende aspekte van liefde gaan. EK SPEEL ONS LIEDJIE is die vierde enkelsnitvrystelling en spog met die mooiste liefdeslirieke waarby luisteraars van alle ouderdomme aanklank sal vind.

“VAN VOORAF BEGIN, my vorige enkelsnit, het laasjaar die nommer een posisie op Bosveld Stereo se Afrikaanse Top 20-treffersparade bereik. Dit is oor die algemeen baie goed ontvang en het selfs positiewe terugvoer uit Doebai, Australië, Nederland en Amerika gekry,” deel die sangeres.

Mariska het reeds haar eie demo-album, Optelmeisiekind, op sewentien vrygestel. Alhoewel sy spog met ’n indrukwekkende CV vir haar ouderdom, is sy steeds dankbaar vir elke geleentheid wat oor haar pad kom. “Ek hou daarvan om te sien hoeveel die mense my musiek geniet wanneer ek sing. Dit gaan nie oor my nie, maar oor die musiek en hoe dit mense raak. Elke optrede is steeds ’n hoogtepunt.” 

Die ster het op ’n plaas net buite Hoedspruit grootgeword en is van jongs af mal oor klassieke musiek. Sy het begin met sanglesse toe sy in graad 1 was en het daarna ook vinnig instrumente soos die klavier, viool en klawerbord bemeester.

Daarvoor het sy ’n hele string toekennings in haar matriekjaar by die Eisteddfod in haar verwerf. Verder het dié dinamiese dame ook ’n BMus (Hons)-musiekkwalifikasie in Musiekoptrede van The Campus Of Performing Arts (JHB).

Sy is tans besig met haar BA-graad in Sielkunde en behoort dit teen 2021 te voltooi. “Ek het laas jaar onderskeidings in al my vakke gehad. Dit was baie harde werk, maar akademiese prestasie is noodsaaklik as jy verder in hierdie rigting wil studeer. Ek is ook besig om aan ’n nuwe en opwindende fase van my loopbaan te werk, maar ek kan nog nie te veel hieroor verklap nie.” Buiten hiervoor, beplan dié veelsydige musikant ook nog heelwat vertonings vir die jaar. 

Met haar stroopsoet stem, sielvolle lirieke en onblusbare passie vir musiek, lê daar voorwaar ’n blink toekoms vir Mariska voor in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. 

Dié nuwe enkelsnit is ook beskikbaar op Mariska se album, Dankie, hier:    https://music.apple.com/za/album/dankie/1384817650

SOSIALEMEDIASKAKEL
Facebook, Twitter, Instagram, YouTube 

Webblad: www.mariska.co.za