fbpx
EK’S OPPAD – Lizanne Barnard span kragte saam met Frank Opperman

EK’S OPPAD – Lizanne Barnard span kragte saam met Frank Opperman

Lizanne Barnard se album, Gevlerktes is in 2019 vir ’n Ghoema-Toekenning benoem in die afdeling, Beste Kontemporêre album deur ’n Vroulike Kunstenaar. Dit het haar aangespoor om te begin werk aan haar nuwe album wat sy graag voor die einde van 2020 uitgereik wil hê.

Alhoewel die nuwe album se titel Dwarshout gaan wees, spring sy die jaar weg met ’n enkelsnit wat alreeds klaar is, genaamd EK’S OPPAD.

Lizanne Barnard en Frank Opperman

Sy het die melodie self geskryf en die lirieke was ’n spanpoging saam met Pyjama Shark en Wayne Raath. Die inspirasie vir hierdie lied kom van Herman du Plessis se Facebookblad waar hy ’n storie gepos het met die titel, Tert se Kersfeesverhaal. Die liedjie beskryf elkeen se persoonlike lewensreis te midde van al die negatiwiteit tans rondom ons en waar elkeen hunker na ’n plek van vrede.

Wat hierdie lied nog meer spesiaal maak, is die mansstem wat saamsing en jou jou ore laat spits om te hoor wie dit kan wees. Niemand anders as die bekende akteur, Frank Opperman het ingestem om hierdie lied saam met Lizanne op te neem nie. Sy rou en growwe stem trap spore tot diep in jou hart waar jy dan elke woord diep kan verteer en begrawe.

EK’S OPPAD gaan deel vorm van dertien ander snitte op die album Dwarshout. Al die liedjies op haar nuwe album vorm verder die klankbaan vir ’n nuwe musiekteaterproduksie, Barabbas by die Kruis.

Die teks van hierdie produksie is geskryf deur Professor Hans du Plessis, wat ons leer ken het met sy Griekwa-Psalms, asook Professor Bernard Odendaal. Al die toonsettings en verwerkings is gedoen deur Lizanne en mede-vervaardiger, Pyjama Shark.

Barabbas by die Kruis vertel die geskiedenis van die gebeure op die dag van Jesus se kruisiging soos gesien deur die oë van die veroordeelde Barabbas. Frank Opperman speel die rol van Barabbas in hierdie produksie.

Definitief iets om na uit te sien, asook na Lizanne se nuwe album wat sy beskryf as progressiewe luisterliedere met orkes.