fbpx
Elvis en Snotkop saam op die Langpad

Elvis en Snotkop saam op die Langpad

Somer is om die draai met die mees onverwagte samewerking wat beloof om ‘n massiewe en opwindende verrassing te wees. Al klink dit onwerklik, stel Elvis Blue en Snotkop saam LANGPAD ALLEEN PAD bekend.

Die tweetalige hartedief van Suid-Afrika, die SAMA-bekroonde Elvis Blue, het ‘n nuwe vlak van opwinding geskep met ‘n prettige nuwe enkelsnit. Hy sing saam met niemand anders as die Afrikaanse pop-, klitsrym- en sokkiesensasie, Snotkop self nie!

Snotkop is nie een wat toelaat om homself in ‘n voorspelbare boks te laat plaas of om gebrandmerk te word onder ‘n spesifieke kategorie nie. Met dié enkelsnit stel Snotkop ons aan die ligter kant van die diep-siel Elvis Blue bekend met hierdie aangrypende vrystelling.

Maak jouself maar gereed vir ‘n totale oorwurm met uitsluitlik net positiewe vibes. Die opgewekte klavier en sielvolle saksofoon laat die twee unieke style van die kunstenaars as een groot lekkerte saamsmelt.

Die musiekvideo van die liedjie neem hierdie perfekte resep vir die toppunt van lekkerkry nog ‘n stap verder. So moenie verbaas wees as jy dalk twee keer moet kyk net om seker te maak jou oë bedrieg jou nie want die twee sangers word as heeltemal nuwe avatars gesien. “Om die musiekvideo te skiet was superpret,” sê Snotkop. “Ons het aangetrek soos wat die ander een gewoonlik lyk en die hele dag op die stel gelag van begin tot einde.”

Elvis en Snotkop het elkeen hul eie massiewe, maar aparte groep aanhangers. Dus was die samesmelting van sulke verskillende en uiteenlopende genres tot nou toe heeltemal ondenkbaar. So presies waar en wanneer het hierdie twee sterre saam gekonkel om ‘n sameswering oor hierdie projek te bespreek?

Ek en Snotkop het deur die jare goeie vriende geword deur mekaar by verskillende konserte te sien. Niemand het ooit gedink ons sal saamwerk as gevolg van ons teenoorgestelde style nie. Nou het ons hul verkeerd bewys!” vertel Elvis. Snotkop erken ook dat hy nog altyd wel saam met Elvis wou werk en verwys na hom as ‘n “moderne digter van die hedendaagse tyd“.

Met hierdie stapelgekke, nuwe samewerking wil jy beslis nie die geleentheid misloop om beide Elvis Blue en Snotkop op 28 Desember 2019 in lewende lywe te sien optree by die Afrikaans Is Groot Somerfees in Mosselbaai nie.
LANGPAD ALLEEN PAD is omtrent ‘n massiewe kontras teenoor Elvis Blue se vorige enkelsnit, Beloofde Land, wat ‘n roerende, patriotiese ballade is.

Albums wat deur die platinumverkoper en die veel-bekroonde wenner van verskeie SAMAs, Ghoemas en Bokkie-toekennings beskikbaar is, sluit in JOU HUISSTORIES, DIE BRUG, OPTICSÊRENS IN DIE MIDDEL VAN NÊRENS en AFRIKAANS. Hy is die trotse pa van twee dogters en woon tussen George en Johannesburg.

LANGPAD ALLEEN PAD is reeds beskikbaar op alle groot digitale musiekplatforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook