fbpx
Faraway George se langverwagte enkelsnit is hier!

Faraway George se langverwagte enkelsnit is hier!

Aanhangers van die folk-sanger, Faraway George, kan regmaak vir ’n groot bederf! Dié talentvolle jong kunstenaar stel ’n splinternuwe enkelsnit vry, ’n musiekvideo én hy sal op die verhoog te sien wees vir ’n lekker vertoning in November.

Die enkelsnit, SUGAR CANE, is die eerste vrystelling vanaf sy beplande nuwe album. Dit kom uit sy eie pen en die boodskap daarvan is dat jy nie alleen is met jou gedagtes en gevoelens nie. “Daar is mense wat die lewe en spesifieke situasies met ons deel, of dit nou familie of vriende is. Dit kan enige omstandighede verander, omdat dit jou minder alleen sal laat voel en jou lewe kan verryk.”

Volgens hom is die liedjie geïnspireer deur sy empatie vir ander mense en hulle omstandighede, én sy persoonlike struwelinge en begeerte om êrens te behoort en sy plek in die wêreld te verstaan.

SUGAR CANE het ’n speelse klank waarby gehore van alle ouderdomme aanklank sal vind. “Dit herinner ons daaraan dat daar ook goeie dinge uit moeilike omstandighede kan kom, selfs al besef ons dit eers na die tyd,” sê hy.

Die liedjie het verder ’n unieke aanslag. Dit is opgeneem tydens ’n lewendige opnamesessie, nogal ongewoon in die bedryf. Oor die besluit om sy nuutste projek só aan te pak, verduidelik hy dat hy graag wil teruggaan na die basiese elemente van musiekmaak.

“Deesdae is dit moontlik om verlore te raak in al die moontlikhede. Soms is iets wat bedoel is om vryheid te bied, juis die aspek wat jou besluiteloos maak. Ek wou terugaan na die kern van musiek; dit wat gebeur wanneer almal in die kamer in ’n liedjie glo. Dis betowerend!”

SUGAR CANE is reeds in 2013 geskryf. Dit is een van vier liedjies wat tydens ’n onlangse opname by die Centurion-teater vasgevang is. Die snit is baie gewild tydens vertonings, daarom het Faraway George dit as eerste enkelsnitvrystelling gekies.

Die musiekvideo is reeds op YouTube bekendgestel en vorm deel van ’n reeks van die vier opnames wat by Centurion-teater opgeneem is.

Voortaan sal die formaat van sy gewone vertonings verander en beplan hy om meer gereeld saam met ’n orkes op te tree. “Alhoewel ek solo-optredes geniet en steeds intieme, akoestiese vertonings sal doen, is dit nogal spesiaal om saam met musikante te werk wat soos ek dink en in my werk glo. Dit maak interessante variasies en interpretasies moontlik en gee elke liedjie ’n nuwe baadjie.”

Faraway George is in Pietersburg gebore (Polokwane) en het grootgeword met Jazz-musiek. Hy het as tiener begin kitaar speel. Alhoewel hy aanvanklik argitektuur sou studeer, het hy dit opgegee vir sy musiekloopbaan. Sy debuutkortspeelplaat, VIR ‘N VREEMDELING, is in 2016 vrygestel.

Deesdae luister hy na ’n wye verskeidenheid genres, insluitend moderne folk, Afrikaans, alternatiewe musiek, Blues en Americana. Hy put groot inspirasie uit stories uit. “Soms is dit my eie storie en ander kere is dit iemand anders se verhaal. Partykeer tower my verbeelding ook iets op en dan verewig ek dit in musiek,” gesels hy.

Al is hy redelik nuut in die bedryf, glo hy dat hy al baie waardevolle lesse geleer het. “Toe ek begin musiek maak het, was ek vasgevang in my eie wêreld. Ek het baie gesukkel om my passie oor te dra tydens optredes. Ek het egter geleer om na mense te kyk wanneer ek op die verhoog is en my musiek vir elkeen van hulle te geeRespekteer almal. Wees bedagsaam en deeglik, sê hy.

Tans is hy besig om materiaal te finaliseer vir sy opkomende album wat in Maart 2020 op die rak sal wees.

https://open.spotify.com/album/4xb7bedLFgrIwGJYvk3JYu?si=PSJrF4HxQ6Cb0voawfjQ4g

Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms hier: Spotify, Apple music, Google Play

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter, YouTube

Website: www.farawaygeorge.co.za